IndexCalendarMAN/FAQSoekLedelysGebruikersgroepeRegistreerTeken in
Neem asb kennis dat hiermee dit amptelik aangekondig word dat die KVB Forum sal skuif, gaan na die kaapsevryheidsburgers.org blad en volg die Forum skakel
Latest topics
» BYMEKAARKOM DAG
Sat Sep 25, 2010 4:28 pm by findmy012

» WAARSKUWINGS VLAKKE TOV SEKURITEITS STATUS
Sat Sep 25, 2010 4:27 pm by findmy012

» VROU IN HUIS VERWURG DEUR SWART ROWERS
Sat Sep 25, 2010 4:27 pm by findmy012

» FORUM WILL BE CLOSING!!!!!!
Sun Sep 05, 2010 9:38 pm by KVB000000002

» ANC GEORGANISEERDE MISDAAD SINDIKAAT IN BLOU TERREUR UNIFORMS
Tue Aug 24, 2010 9:02 pm by KVB000000002

» AND RATCONTROL
Tue Aug 24, 2010 8:58 pm by KVB000000002

» N DAG IN DIE LEWE VAN N BLANKE INWONER IN N WIT PLAKKERSKAMP
Thu Aug 19, 2010 10:38 pm by KVB000021133

» STAKENDE BOBBEJAANTROP OPPAD OM LAND SE EKONOMIE TE KELDER
Tue Aug 17, 2010 11:12 pm by KVB000000002

» WAAR IS DIE POSTE?
Tue Aug 17, 2010 10:50 pm by KVB000000002

Top posters
KVB000000002
 
KVB000000001
 
KVB000000005
 
KVB000021142
 
KVB000021126
 
KVB000021133
 
Arend
 
Admin
 
Ridder Van Die Langpad
 
KVB000021107
 
Wie is Aanlyn
Daar is slegs 1 gebruiker aanlyn :: 0 Geregistreerd, 0 Versteek en 1 Gas

Geen

Meeste gebruikers ooit aanlyn was 48 op Sat Apr 23, 2011 6:16 am
Statistics
Ons het 175 geregistreerde gebruikers
Die nuutste geregistreerde gebruiker is GK63

Ons gebruikers het altesaam 3166 artikels geplaas in 1809 subjects
SA Topsites
SA Topsites
::

Share | 
 

 ONS EIE SPOOKSTORIES

Besigtig vorige onderwerp Besigtig volgende onderwerp Go down 
SkrywerBoodskap
KVB000000002
Admin


Aantal posstukke : 1253
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: ONS EIE SPOOKSTORIES   Wed May 19, 2010 11:06 pm

HANNOVER SE SPOOKMEISIE



‘n Mens lees dikwels van spoke wat jou op eensame paaie, treinspore, huise- of watter ookal alleenige plekke besoek. Die opvolgende verhaal het ek gekry by ‘n ou oom – genaamd oom Gert Venter, nou ook al lank se tyd ‘n siel aan die anderkant van die skeiding homself. Die mense van Nylstroom en Jan Tin in Noord Transvaal sal oom Gert as treindrywer nog goed ter herhinnering kan roep. Hier volg dan oom Gert se storie:


"Andries ja-Dit was lank gelede- nog voor ek by die Spoorwee gewerk het-laat in Desember 1961 toe ek een aand moes deur ry vanaf Beaufort-Wes in die Karoo na Colesberg, omtrent so honderd en neentig myl vanaf Beaufort-Wes. Die pad tussen die twee dorpe was maar lank, en baie stil- in die droe Karoo. Ek is so teen nege uur die aand uit laasgenoemde uit, en het maar so tagtig myl gehandhaaf. Ek moes vir dringende besigheid na Colesberg gaan, die dat ek so laat die pad aangedurf het. Om alleen die ou paadjie te ry, was om dit die minste te stel, uiterste moord. Die paadjie was maar lank, reguit en eentonig, sonder baie ander motors. Karoo bossies en berge vergesel jou tot wie weet waar.

Ek het uit Beaufort-Wes uit beweeg, en dit was nie lank nie, toe het die ou dorpie se liggies agter my in die stikdonker nag verdwyn, en ek was alleen op die lange stil en donker pad na my bestemming. Ek was so agt myl daar tussen die vlakte en Karoo wêreld in, en het my salig reggeskuif om die langpad rustig te vat . Die motor, ‘n ou Chevy 2, se ses silinder enjin het eentonig rustig gemurmur-sy skerp hoofligte het die pad taamlik ver verlig.Net toe ek duskant Hanover se stasietjie verbyskuif, merk ek ‘n vae gedaante aan die regterkant van die pad op. Eers het ek my glad geensins daaraan gesteur nie, maar na mooie betragting sou ek sien dit is ‘n jonge meisie wat langs die pad staan, en vir my beduie om te stop. Waar sy gestaan het, was dit die ene vlakte, met geen geboue of bome nie, net die karoobossies, die maan en die berge in die agtergrond. Ek was heel uit die veld geslaan oor die feit dat so ‘n jonge nooi daardie tyd van die nag somaar daar langes die pad staan. Nou ja, geen man wat sy sout werd is, laat ‘n jonge dame daardie tyd van die nag alleen langs die pad staan nie, en ek ook nie. Ek het my vereenselwig dat geen verkeer van agter kom nie, en het toe maar afgetrek langs die nooi. Wat vir my eienaardig was, was die feit dat daar geen enkele siel in die omtrek was nie, geen ligte van enige huis nie, en ook geen motor wat gebreek het nie. Die arme dingetjie was so sestien jaar soos ek haar geskat het, en skamel geklee in ‘n ou dun nagrokkie, boonop nog kaalvoet. Te eienaardig het ek toe gedog.

Ek het langs haar stilgehou, en aan haar beduie om in te klim. Dat die kind koud gekry het, was te verstane, want in daardie geweste word dit bitter koud gedurende die nag. Sy het maar alte dankbaar ingeklim en my gegroet. Sy sagkens, amper onhoorbaar, om verskoning gevra dat sy my moes stop, maar hulle het glo motor probleme aan die anderkant van Hanover gehad, en toe besluit om op die grootpad te wag op hulp. Ek was daar en dan op die plek vies vir die”hulle” om so ‘n blote kind in die donkerte te stuur om hulp te kry, maar het maar verswyg om verder te delwe. Sy het aan my gevra of ek haar na die naaste dorpie op my pad, Drie Riviere, sou neem- sy ken glo mense daar. So gesê-so gedaan. Ek het aan haar my baadjie gegee om oor haar te gooi vir die koue. Terwyl ons toe nou so ry, het sy my ‘n hartseer, maar eienaardige storie vertel. Haar storie was dan as sulks:

“Op ‘n plaas genaamd Langdraai, blykbaar nie baie ver van waar ek haar flussies opgetel het nie, maar aan die anderkant van die berg, het daar ‘n nooi Katryn Steyn gewoon saam met haar ou moeder en die se tweede man, Herklaas. Herklaas was na bewering ‘n baie moeilike mens, en het vir geen duiwel gestuit nie. Hy was ‘n man met sterk oortuigings, en een van hulle was dat meisiekinders in die huis bly totdat hulle hubaar is, en by sononder moes hulle tuis wees. Katryn was dan nou ook een van drie mooie dogters, en ook die oogappel van Herklaas. Sy was die enigste van die drie wat sy eie kind was- die ander tweetjies was van sy vrou se vorige huwelik. Die gesin het rustig daar gewoon op die plaas, met geen ander mense in sig nie, en het maar die pot aan die kook gehou met die Karakoelboerdery. Almal was gelukkig en het elke dag maar voortgegaan met die allerlei take. Nooit het gaste juis kom kuier nie, weens die afstand wat hulle tussen die berge gebly het, en natuurlik ou Herklaas se stug geaardheid. Een keer ‘n maand het Herklaas sy gesin na Laingsburg, sowat tagtig myl vanaf die plaas af, geneem om voorrade te koop. Die lewe was dus vreedsaam op die plaas….totdat die duiwel ‘n hand in die verlope geneem het.

VERVOLG-




Laas bewerk deur KVB000000002 op Mon Jun 28, 2010 10:01 am; altesaam $s keer bewerk.
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000002
Admin


Aantal posstukke : 1253
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: ONS EIE SPOOKSTORIES   Wed May 19, 2010 11:08 pm

-VERVOLG:

Die plaas langsaan die van Herklaas, so vier myle verder, was vir jare onbewoon- die laaste mense kon dit nie meer maak op die plaas nie- blykbaar uitgeboer, en het toe stad toe verkas. Op een dag was Herklaas en sy gesin maar besig op die plaas soos altyd, toe ‘n vreemde motor die opstal binnery. Die mense het hulle voorgestel as Van Jaarsveld, en Herklaas meegedeel dat hulle die plaas langsaan gekoop het teen ‘n billike som by die vendusie en die dag ingetrek het. Ou Van Jaarsveld was ‘n nie te onaangename man nie, met so ‘n fyn klein vroutjie. By hulle was daar so ‘n opgeskote dogter en haar ouer broertjie- klein Hannes. Die mannetjie was nogal mooi van aansien met so ‘n regop blonde kuif. Dit was ook nie lank nie, toe het hy en Katrien vir mekaar begin ogies maak. Herklaas het die ding gesien, en baie streng met Katrien daaroor gepraat.Volgens hom was sy nog veels te jonk- op sestien- en daar moes nog baie water in die see loop voordat sy aan sulke dinge kon dink. Nou ja, soos ons maar die jonges ken, en die liefde, het dit nie die tweetjies gestuit om gou-gou ander reëlings te tref nie. Hulle het ooreengekom dat sy elke aand om vyf uur op haar perd sou klim en na die berg se kant toe ry met die verskoning dat sy die dier oefening gaan gee. Sy sou hom dan by die ingang van die kloof ontmoet, en dan vir so ‘n twee uurtjies privaat die dinge doen wat jong verliefdes doen, dan weer huistoe. So sou ou Herklaas geen duit agterkom nie. Het die tweetjies maar geweet wie en wat ou Herklaas regtig was.

Herklaas het gou-gou agtergekom dat sedert die intrek van die jonge hanslam, sy dogter skielik gereeld haar perd oefening gaan gee, en dit was nie te lank nie, of die ou neukerige het homselwers ‘n perd opgesaal, en toe sy een aand uitry, haar op ‘n veilige afstand gevolg. By die bymekaarkom plek, het sy gestop, en Herklaas het so paar honderd jaarts agter haar haastig sy perd ingetrek, en aan ‘n Karoobos vasgemaak. Die ent verder het hy toe te voet so buk-buk afgelê. Dit was toe ook nie ‘n honderd jaar nie, of die jonge Hannes daag daar op, en die tweetjies gaan salig onbewus van Herklaas aan die vry. Herklaas, wat die petalje gadegeslaan het, was briesend van woede, en het toe saggies teruggegaan huistoe. Met haar aankoms so drie ure later, het hy haar gekonfronteer, en ‘n hewige argument het uitgebreek, met die gevolg dat sy in haar kamer toegesluit was vir twee dae. Op die namiddag van die tweede aand, toe die moeder kos na haar kamer vat, het Herklaas skielik agter die ou tante aangekom, heeltemal onverwags, en by die ingaan van die kamer gevind Katrien was skoonveld. Hy het sy vrou aangevat, en die waarheid het op die lappe gekom- Katrien ontmoet nog steeds die jonge Hannes- teenstrydig met Herklaas se bevele-met die moeder se medewete. Katrien wag tot haar pa op sy leunstoel ontspan om sy radioprogram te luister, dan klim sy deur die venster, gaan na die stalle, lei haar perd doekvoet so honderd jaarts weg van die huis, en laat spaander na die berg. Dieselfde doen sy omgekeerd as sy terugkom.

Herklaas was onkeerbaar van woede, en het die ou tannie net daar en dan ‘n verdekselse loesing gegee, en die trappe afgestorm. Die ou tannie het gehoor hoe perdepote ‘n rukkie later oor die plaaswerf klap, en gesien hoe Herklaas die veld in vaar. By die hak in die kombuis waar die gewere hang, het sy die .303 geweer vermis. Herklaas moes dit gevat het. Herklaas het pyl reguit na die ontmoetings plek gejaag en die perd ‘n ent terug laat staan. Saggies het hy gekruip totdat hy die twee op ‘n rots sien omhels het. Hy het die geweer oorgehaal, en langs die jonge Hannes na 'n rots aangelê, met die doel om hulle die skrik op die lyf te jaag. Met ingehoude woede het hy gewag totdat hy ‘n stil teiken het, want die gejagery het hom effe laat blaas -en toe die sneller getrek. Nou hier het die duiwel blykbaar sy troef gespeel, want toe die ou die sneller trek, kom daar ‘n skielike bergwind op wat aan die loop van die geweer ruk.Tot sy skok en verbasing het hy altwee kinders sien agteroor val toe die skoot klap! Herklaas het gewag en gewag op beweging, maar geen beweging is gewaar nie. Toe hy opstaan, was hy net betyds om te sien hoe die jonge Hannes op sy perd, wat om die rots agter hulle gestaan het, vlieg, en laat spaander huis se kant toe. Herklaas het die geweer neergesmyt, en nader gehardloop. Was sy hartseer nie groot toe hy daar kom, en sien sy mooie Katrien lê op die grond nie. Sy het op haar maag gelê, en daar was ‘n groot plas bloed onder haar. Met betraande oe het Herklaas het haar omgedraai, maar hy kon oombliklik sien sy was reeds nie meer met hom nie. Haar oe was glasig- en bloed het stadig by haar mondhoeke uitgesypel. ‘n Groot rooi kol op haar bloes regoor haar kortrib het hom laat besef sy koeel het haar met noodlottige gevolge getref. Geen pols was voelbaar nie.Toe Herklaas die sneller getrek het, het sy regsoor gebuig om op Hannes se bors aan te lê, en die skoot het haar reg in die hart getref. Die koeel moes soos die duiwel wil, sy trajek verander het met die geruk van die wind en nie die klip getref het soos beplan nie, maar reguit vir die kinders . Die slag het beide van hulle agteroor gegooi, en Hannes was seker te geskok om onmiddelik op te staan.

Herklaas was so bedroef dat hy Katrien net daar laat le het, en die berge soos ‘n mal dier ingevlug het, om tot vandag toe nooit weer gesien te gewees het nie. Party mense sê hy het van ‘n krans afgeval-andere hy het selfmoord gepleeg, en andere dat hy wel gevang was, maar niemand kon verseker weet nie. Katrien se oorskot is twee dae later opgespoor deur die plaaslike kornet se soekgeselskap-en met groot roubeklag in die plaaskerkhof begrawe, waar sy vandag nog is, en nie lank daarna nie, het haar bedroefde moeder ook by haar aangesluit. Die twee sustertjies het na familie op Somerset Wes gegaan. Hannes is na die voorval Kaapstad toe,en het nooit weer sy voete op die plaas gesit nie, maar sy ouers het nog vir ‘n geruime tyd daar geboer, totdat die plaas weer verkoop was na die ou man se dood.”

Die meisie langs my het so ‘n ruk stilgebly, en toe afgesluit deur te sê dat die snaakste deel van die tragiese verhaal juis die einde was. Baie mense in die omgewing het beweer dat hulle Katrien se gees gereeld, elke jaar op die nag van haar dood, sien dwaal het oor die vlakte in die maanlig naby Hanover, en verskeie motoriste het ook al die gedaante langs die pad gesien, maar as hulle stop-was sy skoonveld. Mense van die omgewing sê dat Katrien tot vandag toe tussen Hanover en die plaas loop en soek na Herklaas om hom te vra waarom hy dit gedoen het, en haar siel sal nie rus voordat sy hom gekry het nie. Aan die ander kant beweer die mense, is Herklaas se siel in die hel oor sy misdaad- en dus is haar siel verdoem om vir altyd hier op die aarde soekend te bly na Herklaas want se hulle-die een kan nooit by die ander uitkom nie!

Ek het ‘n ruk lank oor die tragiese verhaal gesit en wonder, maar niks gesê nie. In stilte het ons toe maar die laaste myle afgele.Ek wou haar nie onnodig ontstel nie. Die tyd was in elke geval verby en ons het by Drie Riviere se vulstasie ingedraai. Ek het gestop en na haar gedraai om te vra of sy nie dalk die dameskamer wou gebruik voordat ek haar by haar mense sou aflaai nie, en skielik besef dat sy nie meer langs my was nie. Toe tref dit my- Sy was al die afgelope tien minute of so nie meer langs my nie!!! Geskok staar ek na die sitplek langs my in die helder ligte van die vulstasie. My baadjie hang nog steeds presies daar agter in die motor waar ek hom aan die hak opgehang het voor ek die nooi opgelaai het, en waar sy flussies gesit het, was daar op die ruglening van die sitplek so‘n groot donkerrooi bloedvlek op die skaapvel oortreksel- presies op skouerhoogte waar die patroon haar getref het!!!! Nodeloos om te sê dat die afstand na my eindbestemming die vinnigste ooit in my lewe was."
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000001
Admin


Aantal posstukke : 1130
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: ONS EIE SPOOKSTORIES   Thu May 20, 2010 8:28 am

Ek dink dies n vantastiese draad mag almal hier by voeg en onthou hoe ons as kinders hulle geniet het, van hulle het die hare nogal laat regop sit.
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000002
Admin


Aantal posstukke : 1253
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: ONS EIE SPOOKSTORIES   Sat May 29, 2010 2:37 am

Hier volg die tweede storie in my reeks:

TREIN VAN DIE DOOD



Jare gelede - hier in 1985- was ek een middag laat oppad vanaf Pretoria na 'n ou vriend van my wat gewoon het so 40 kilometer aan die Noord-Ooste van Potgietersrus in die Noorde van Transvaal, vir 'n lang belowende kuiertjie.. Nou ja, daardie wereld was geensins aan my onbekend nie - dis nou die dorp en omgewing selwers - Roedtan, Sterkrivier, Voortrekkersweg- die hoofstraat, Hoerskool Piet Potgieter, Potties Laerskool, Mike Erasmus Hoerskool, Genis Apteek, die Rio kaffee, bioskoop onder die O.K handelswinkel, tennisbane ens- maar aan die anderkant van die rustige dorp, ooswaarts, daar by Percy Five se kant, die het ek nie juis geken nie. Dit is 'n baie bergagtige landstreek, jy ry die hele tyd in en om die bekende Waterberge, die klein Nylrivier, al hier van Nylstroom in die suide se kant af. Hoe verder jy dan Noord-Oos beweeg van Potgietersrus af, hoe meer koppies, klowe en berge kry jy met Kameeldoring en Apiesdoring die wereld vol. Sekelbos en miershoop verhinder enige gewone padvoertuig toegang, en om nie eers te praat van vandag se "grend "plastiek namaaksels wat almal so in ons stede ten duurste mee spog nie.So was dit dan ook juis daar tussen die hellings dat ek een van my mees tragiese spookstories opgetel het, en byna ook amperse self een beleef het. Ek is nie juis 'n persoon wat bang is vir die onbekende nie, maar ek sal ook nou nie gaan torring aan dinge wat my nie aangaan nie. Ek glo maar vas aan my eie beginsel van"As jy nie in die moeilikheid wil beland nie, jy selwers ook dan nie in die eerste plek moet betrokke raak nie!" Ek meen, ons lewe hierdie kant van die skeiding- en die ontslapenes is nou aan die ander kant. Volgens die Goeie Woord bly ons van mekaar se werelde af weg, ons hier sal mos ook eendag daardie kant toe gaan. Dis mos nou nie nodig om nou al te gaan torring aan die dinge wat jou g'n niks aangaan nie!

Nou ja, soos ek gesê het, ek was op my pad na 'n ou skoolvriend, Wessel Wessels toe. Hulle het 'n kart en transport besigheid genaamd Essakows, gehad op 'n plaas anderkant Potgietersrus, tussen die berge en koppies. Die pad wat ek moes ry was pure grondpad, met al die sanderige draaie en sinkplaat effekte, gate en dies meer waaraan ons gewone plaasboere lankal aan bekend is. My ou voertuigie, 'n ou Mazda 323 motortjie, was maar nie gebou vir die tipe ruwe paaie nie. 'n Regte ou stads karretjie, en ek moes maar alte versigtig ry om nie dalk 'n as te breek in 'n donga of per sluiks in 'n gat te beland op die sanderige draaie nie. Om nie eers te praat van wild wat onverwags oor die pad van nerens af voor jou ingevlieg het nie. Dit was so ongeveer half sewe die aand toe ek die eerste helligs van die spookagtige ou Waterberge in die skemer nader. Die son was al so-te-se onder en jy kon die liggies van verafgeleë plaas- opstalle hier en daar onder die berg sien. Krieke het al teen die tyd hard beginne raas in die veld om my. Stof van plaas werktuie het soos gewoonlik laag op die aarde gelê. Kyk, dit was nou nie juis my skoon gepolleerde kar se bak poeding daardie nie.

Ek het maar stadig teen die hellings begin uitkruie...al op en op teen die skadus van die hang tot amper bo op die koppie. Daar het die ou grondpaadjie na links afgehel, en al slingerend tussen die gevaarlike loshangende rotse deur gewriemel.....tot doer onder waar hy dan skerp regs om die berge slalom na die plase toe wat knus genes lê in die klowe. Ek het so teen 30 kilometer per uur my weg af gesnuffel in 'n lae rat. Ek wou nie daar ten een hengske vaart affoeter en onbeheerst die bedrieglike steiltes daar afneuk nie. So het ek maar baie gespanne daar afgeskilpad, toe die pad skielik so 'n slamse es na links om die Wag-'n-bietjies maak, en ek tot my verbasing amper binne in 'n hekpaal wat horisontaal neffens oor die pad loop, ry. Uit pure skok slaat ek toe kwaai rem aan, en na so 'n paar meter se geskaats op die los sand, en vinnige nood aksies, kom ek ten einde amper teen die paal te lande. Kyk, om die minste te sê, ek was heel verbaas, en ongelooflik briesend. Hoe kan enige regdenkende mens nou so 'n konstruksie regoor die pad loop en bou op so 'n skerp draai? Van pure skok klim ek toe nou maar uit die motor, met stof wat al om my dwarrel, en begin aanstap in my motorligte om die hek wat so 'n opwaartse swaai tipe was, te gaat oplig. Daar was dan ook die presiese plek waar ek myself daardie aand amper laat ontwater het! Net toe ek nou die hek so vasvat om hom op te tel, hoor ek skielik die harde gebler van 'n lokomotief toeter-


VERVOLG-
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000002
Admin


Aantal posstukke : 1253
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: ONS EIE SPOOKSTORIES   Sat May 29, 2010 2:38 am

-Vervolg:

- direk agter my afgaan. Met een helse adrenalien sprong vlieg ek al gillend daar weg en gaan maak my bewend langs my motor staan, net betyds om te sien hoe een massiewe stoomlokomotief in die lig van my motor, duidelik gedrappeer in die ou ZASM se groen kleure deur die bosse , so vyf tree effe regs van my, bars en met ratelende en sissende ysterwiele reg voor my agter die hek verby dreun. Die grond om my het so getril van die gewig van die yslike monsterwiele. Hy het met so 'n vaart daar verbygekom, dat die Seringboom se sade in alle rigtings gespat het toe hy onder die boom deurvlieg! Ek probeer nog van pure skok myself teen die motor stu, toe sien ek een na die ander passasierswa agterna gejaag kom. Nou ja, behalwe die onverwagse skrik het ek het niks van die trein as sulks op daardie spesikieke moment gedink nie, siende ek maar nuut in die omgewing was, en moontlik nie die waarskuwings chevrons in die dalende lig langs die pad gewaar het nie. Ek het die verbyvlietende passasierswaens so een vir een dopgehou soos hulle voor my in die opening oor die grondpad flits.

Na so 'n halfminuut het die laaste van die donderende waens dan nou ook verbygesnel, net om so vinnig as wat hulle verskyn het, te verdwyn tussen die digte struike en donker rotse in. Ek het die gevaarte agterna gestaar totdat die rooi liggies van die kondukteurswa skielik om die een of ander obstruksie verdwyn die donkerte in. Steeds bewend het ek toe maar eers goed asem geskep, en toe my krag bymekaar geskraap om vorentoe te strompel en die hek te gaat oopmaak. My gedagtes het gedwaal na die omgewing om my. Mensig- toe sien ek eers ek is heelwat bo-op die berg...en ek kon my nie wysmaak dat ek die ding nie eers gesien- wat nog te se - gehoor het teen die berg opkom nie! Iewers het ek die aanloop van die treispoor teen die berghelling ook gemis. Ek het steeds bewend in my motor geklim, eers mooi seker gemaak daar kom nie nog 'n trein nie, en voortgery na my bestemming. Terwyl ek so ry, het ek skielik besef dat ek, terwyl die trein daar voor my verbygerammel het, nie een oop venster gesien het nie! Die vensters was almal bottoe - selfs die blindings aan die binnekant van al die trokke was toegetrek. Gewoonlik hang daar mos mense by die vensters uit of daar is tog 'n paar wat oop is - te eienaardig dog ek by myselwers. Mense het seker maar geslaap, al was dit nog vroegaand. Maar nou ja, ek moes nog die plaasopstal in die donkerte vind, dus het ek my nie te veel gekwel oor die voorval nie.

Dit was so net na sewe toe ek uiteindelik tot stilstand kom voor die masteuse ou ruwe klipmuur plaashuis, net soos u hom sou voorstel. Toe ek uitklim, het Wessel aangestap gekom om te kom groet. Saam-saam is ons toe in huistoe om sy ouers te ontmoet. Nadat ek my reistas ingevat, uitgepak, ge-eet en myselwers gereinig het, was dit so tien uur die aand - en alle gejaag was verby. Terwyl die tannie en Wessel se suster - nogal 'n mooi nooi - aan't skottelgoed was was, het ons mans maar volgens die plaasgebruik op die verandah gesit en in die warm naglug aan 'n drankie gesuig, gesels en 'n dampie of wat gemaak. Dit is dan ook nou daar wat die treingedoente toe by my opkom. "Hoe dan nou oom-..." wou ek toe van ou oom Wessels weet- "...sit julle boeremense 'n vervlakste hek regoor die pad so op 'n draai...en hoekom sit julle dan nie duidelike chevrons op die pad om motoriste te waarsku teen treine nie...en vir wat het die spoorweë nou gaan staan en 'n spoor daar bo teen die berg bou...?"- wou ek gemaak vies weet.

Na aanleiding van die redelik siniese kyke wat ek van die ou oom en Wessel gekry het, verduidelik ek hulle toe van die amperse ongeluk wat ek gemaak het doer teen die hang van die berg. Vir 'n lang tyd was daar so 'n absolute stilte. Ek kon nou nie eintlik die kloutjie by die oor kry wat aangaan nie, maar iets het my vertel daar was meer aan die gebeurtenis daar op die berg as net die gebeurtenis! Na 'n lang stilte het die oom vorentoe geleun en sy langsteel pyp uitgeklop. " Jy sê jy het waaragtig 'n trein daar bo gesien...?" vra hy toe heel ernstig. Ek beaam toe my storie en vertel die oue ook die presiese kleure van die lokomotief, koperpype, sy waens en so aan. Die ou oom en Wessel het mekaar lank weer aangekyk. Skielik het Wessel opgestaan, sy pa nadenkend aangekyk en met 'n " Pa moet maar liewer die storie vertel...ek gaan maar eerder bad..."- die geselskap verlaat. Ek kon Wessel se skielike somber houding nie oombliklik peil nie- en het besluit om maar liewer verder te swyg oor die voorval. Duidelik het ek iewerste 'n senuwee geraak.

Vir 'n paar minute het die oue al peinsend aan sy pyp gesuig terwyl hy ver oor die maan verligte vlakte tuur, en toe effe vorentoe geleun." Andries ou seun....wat ek jou vanaand gaan vertel...is die reine goddelike waarheid....ek gaat nie lieg nie! Ek hou nou nie juis daarvan om oor die ding te gesels nie....dis groot seer....ons hier rond gesels nie eintlik oor die saak nie....maar nou ja..jy is seker nou ook deel van die tragedie. Wat ek jou nou gaan vertel...gaan jy nie glo nie...maar dis eg. Jy kan maar almal hier in die omgewing vra...hulle sal alles beaam wat ek se. Dis 'n seer en rou wond ,- hierdie ding. Ja, ons glo jou as jy sê jy het die trein gesien......dit is seker nou omtrent sy tyd...hy moes die een of ander tyd weer kom. Wat jy gesien het....gebeur nie gereeld. nie...net by sekere tye en sekere geleenthede." Die oubaas het weer vir eers lank oor die horison gestaar. "Jy het vanaand die trein van die dood gesien ou seun!" - se hy so skielik na 'n ruk, dat ek skoon wip van die skrik in my stoel. Nou was my nuuskierigheid eers geprikkel! "Trein van die dood oom?"- wou ek kwansuis weet. Die oudste het die rook uit sy pyp eers deur sy neus geblaas. " Ja kinta...die transport na die onderwereld....die trein uit die hel ou seun....die trein uit die hel...Satan se eie trein....."- prewel die oue toe skaars hoorbaar na nog 'n lang stilte. Nou was albei my ore ,sowel as my nekhare, kiertsregop! Vraagtekens was oral op my gesig afge-ets. Die oue het sy pyp neergesit, my nog 'n blikkie mout aangebied, en die volgende ongelooflike verhaal vertel:


" Jy sien....." begin die oubaas sy storie met 'n keelskoonmaak in alle erns. " Jarrre gelede...hier in die sestigs......het die spoor daar van Potties se rigting hier oor die kim geloop..."- en die oudste wys met sy pypsteel na die berg wat ver en donker afge-ets teen die spookagtige horison lê. " Van daar het hy so afgeloop teen die helling af....doer anderkant die plaas verby....af en dan verdwyn tussen doerie twee koppies in....om ou Geyser se plaas waar hy gaat draai het doerrr anderkant by Henley-on-Klip....en dan koers gevat het Pietersburg toe. Die oue vat toe eers 'n slukkie mout om sy keel te olie vir die res van die verhaal. " Jong, dit was dan ook net by die einste bleddie Henley-on-Klip waar al die gemors begin het.....maar laat ek jou van die begin af vertel.."- sê die oubaas terwyl hy homself regskuif vir 'n lang sit met sy een knie so oor die ander. " Ek en die tante het pas die plaas hier gekoop...was maar rof hier, en was nog besig om nes te skrop toe die ding gebeur het. Sien jy daardie hoë kop daar agter - daardie een met die los boulder bo-op..?" vra hy en beduie so 10 tot 15 kilometer verder na 'n hoë koppie." Daar het vanmelewe 'n ou treidrywer genaamd Eugene Roets gebly. Sy huisie sta ook lankal se tyd nie meer nie. As jy sou soontoe gaat- sal jy nog die fondasie en stukke murasie daarrr teen die kop kry. Ek kan nou nie die presiese jaar onthou nie...maar dit was hier laat in die sestigs...ek dink amper dit was in neen-en-sestig- toe dit gebeur het - maar watookal- die ou was so 'n groot man...soort van alleenloper. Niemand het eintlik van die ou gehou nie...so 'n ou vuilirige man...seker maar min gewas...en hy het ook nie juis met die mense in die omgewing gemeng nie- stugge ou swernoot gewees. So af-en-toe het jy hom op die dorp raakgeloop as hy gaan kruideniers koop. Gesels het hy nie eintlik nie...ons het hom maar opgesom as 'n tipe kluisenaar..het ook maar net ja en amen gese as ons probeer 'n geselsie aanknoop. Altyd na sweet geruik...kon dit nog goed onthou. Ons het maar besluit om die ou in vrede te los om sy gaat te gaat..hy het niemand skade aan gedoen nie. Hy het hier op Potties se stasie gewerk...die weet ek. ..ek dink ..nee, ek weet ok nou nie of dit goedere treine- of passasierstreine was wat hy gery het nie, maar dit was in elk geval een van die twee."- Die oom het dan weer eers 'n teug hops gesluk.

"Soos ek gesê het- die ou was dan nou werksaam op die spoorweë as drywer op die voetplaat. Jong, ek praat nou van hoorsê, maar eendag het die lelikste van lelikes gebeur. Die ou was een oggend glo smoordronk by die werk - net so na betaaldag - so se die mense hier rond. In sy beskonke toestand het hy glo toe oorgevat by 'n ander drywer op Potties....hulle ry mos so in skofte as die pad lank is. Hy moes die trein blykbaar deurvat Pietersburg toe. Hoe hulle nie kon sien die man was dronk nie, die sal ek nie weet nie - maar in elk geval- daar klim hy toe so dronk soos 'n tor op die grote masjien. Hy het - soos ek verstaan- 'n hele spul trokke gehak gehad ook- en is toe daar weg op sy pad. Man ou seun- die spoor loop toe daar waar jy vanaand hom gesien het- dan skerp af met die berg tot daar anderkant in die vlakte tot by Henley. ..nou moet jy verstaan watter spoed daai trein optel as hy hier afgedonder kom teen die berg af. Daai ding vlieg hier oor die aarde soos 'n bleddie patroon uit 'n 303. Van stop is daar g'n niks nie! Nou ja, dit was die pad wat ou Roets ook moes vat op sy roete annerkant toe. Dit was dan nou ook toe hy nou hier onder by Henley on Klip invlieg, so dronk soos hy was en nie by sy sinne nie, dat die vervlakste satan die ding nog verder oorvat. By daai stasietjie loop die pad van die ou plaasskooltjie af oor die blesitse treinspoor...sommer so 'n oorweggie. Daar is nie eers hekke of iets nie. Nou dié dag, ek dink dit was 'n Vrydag, het die skoolbus vol kindertjies bo-op daardie selfde verdomde plek gaat staat en vrek - wydsbeen oor die spoor -so....!"- en die oubaas beduie met sy twee vingers gespleet bo-oor sy ander vinger. "... en maakie saak hoe die drywer geprobeer het nie, die ding wou niks weet nie. Die ergste was dat die vervlakste oorgang net om 'n draai lê, en jy kannie die treine siet aankom nie. As jy die bleddie stront uit jou oë vee, dan is die gedoente op jou!


VERVOLG-
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000002
Admin


Aantal posstukke : 1253
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: ONS EIE SPOOKSTORIES   Sat May 29, 2010 2:40 am

-Vervolg:


Jong, hy was nog so aan't spook met die starter, toe kom daai grote gedoente skielik met die spoed van 'n besetene om daai draai met die ou verdomde dronk Roets aan die stuur. Ag Vader...watter kans het die arme kindertjies gehad? " - Hier bly die oue van dae so 'n rukkie diep peinsend stil. "Hulle sê - dis nou die koerante - dat een outjie het rasend van angs twee of drie van sy maatjies uit die bus se venster gegooi voordat daardie massiewe gevaarte daai bus getref het. Ou seun...dit was 'n lelike gesig.....ai! Wee' jy, ons het die slag tot hier gehoor! Ons het so groot geskrik...daar het so 'n helse groot stofwolk gehang daar agter die berg. Jong, ek en die tante is inderhaas hier weg en het gejaag so vinnig as wat die ou Dodge kon loop. Jong, daar gekom, sien ons iets wat ons nooit weer sal vergeet nie. Ek kry nou nog nagmerries as ek daaraan dink. So ver jy af met die oorhoofse kabels kyk, sie' jy net kinder lyfies hang - op die grond...dis net bloed en stukkies vleis...dit was iets verskrikliks.. die tante het net daar en dan flou geword! Ek het uitgespring en gehardloop om te kyk of ek kan help...maar ou kinta...daar was niks. Van die bus was daar net opgefrommelde wrakstukke.. skoon in twee geslaat. Stukke van die bus het hier eenkant gele..en ander daar...en stukke was nog vasgeklamp aan die lokomotief se voorste rooster. Die ou d*nner het op 'n manier die trein so vyf honderd jaarts verder gestop gekry...die sta' toe daar. Jong, naderhand het daar nog mense gekom - en ook die kinders se ouers -...dit was iets verskrikliks gewees om daai mense te sien. Wat se jy...wat doen jy? Jy het nie woorde om hulle te troos nie. Mense wat jy ken...huisvrinne...jy kan nie in hulle oe kyk nie...dis lelik! Ek het sommer doerriekant toe geloop en my longe gaat uitbraak.

Ai, dit was 'n gemors - ons het nie geweet waar om te begin te skoonmaak nie. Die polisie het gekom- en eers allerhande opmetings gevat, boeke vol geskryf...en toe die stukkies beentjies, armpies en ander liggaamsdele in sulke swart sakke gegooi. Ek kon nie kyk nie. Ek dink die spoorweê het die spoor gesluit gehad vir 'n week of wat om alles skoon te maak.Hulle het toe die ou swerkater sommer daar en dan in die polisieven gegooi- en weggevat. Daar was so baie blomme op die spoor gepak die volgende week- mense het van oral gekom om meegevoel te betuig, tot 'n minister! Dit was lank daarna....man jarre, toe kon jy nog stukkies oorblyfsels van die kinders se goedjies optel langs die spoor. Ons het toe maar geld ingesamel hier onder mekaar - die koerante het gehelp - en in die dorpe - om darem vir die ouers te help in hulle tyd van rou. Die staat het vir die begrafnisse betaal. Ek was nog nooit by so baie roudieste gewees nie. Elf kinders het daardie dag die lewe gelaat. Dit was lelik! Man, die polisie het toe ou Roets hier weggevat selle toe, aangekla en so aan. Man, soos ek verstaan moes die skepsel nog hof toe - of hy was net in die hof hier op Potties - ek weet ook nie, maar so tussen die gedoente deur was hy in die een of ander selle, en blykbaar daar in die polisieselle het hulle hom een oggend gekry - homself met sy belt aan die tralies opgehang! Ek dink toe hy nou sober geraak het, het die werklikheid van sy onbesonne daad hom begin ry - die dat hy toe maar hasepad hel toe gevat het. Die Spoorweë het toe die spoor annerkant die berg gesluit en 'n verlenging om die berg laat aanlê hier voor verby. Treine kom nou heel stadig hier verby. As jy mooi kyk, sal jy 'n rooi liggie daarrr anderkant sien - dis waar hulle nou moet stop voor hulle die kruising oorgaan. Daar is ook nou elektriese hekke wat toegaan as die trein kom...maar wat help dit...dit het daai arme kinders se lewe gekos om die Spoorweë te kry om iets aan die ding te doen...hulle is vir altyd weg ou seun.

Nou hier is waar die gedoente sy loop begin vat het! Vandat die ou homselwers uit die lewe gehelp het....het die bleddie doodstrein begin loop! Sommer so uit die bloute het ons een nag , nie lank nadat ou Roets die tydige met die ewige verwissel het nie, laat die fluit daar teen die berg gehoor..en van daar af het hy sy makabere ritueel begin. Elke nou en dan, dan hoor jy hom daar teen die berg - jy hoor hom opgaan - jy hoor hoe hy fluit - en jy hoor hom afkom met die helling....jy hoor hoe ratel daai ysterwiele al vinniger en vinniger soos hy spoed optel hier teen die nek af. Party mense die het hom al ook gesien, maar as hy hier regs afkom waar hy sigbaar moet wees, POEF...dan's daar skielik niks! Doodstil.


-VERVOLG
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000002
Admin


Aantal posstukke : 1253
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: ONS EIE SPOOKSTORIES   Sat May 29, 2010 2:40 am

-Vervolg:

Jy kan ook maar kyk wanner die ding loop. Elke keer as hy geloop het, dan's daar iemand oorlede hier iewers op 'n plaas - dit maakie saak wie nie - baas, arbeider, man, kind..... mens sê die gedoente is vol siele op hulle pad hel toe en elke keer as iemand soontoe gaat- da' kom haal die blessitse ding die siel as die liggaam ontslaap. As hy loop, dan kan jy maar gaat soek vir die ontslapene hier iewers...jy gaat vir hom of haar kry! Mense sê dat ou Roets vir ewig vervloek is oor sy gruwelike daad en vir die res van sy siele bestaan daardie trein sal moet ry...oor en oor en oor ...selfde roete as daardie verskriklike dag..- om hom deurentheid te herhinner aan die arme onskuldige sieletjies wat hy so ongenadiglik weggeruk het! Niemand waag dit ook op daardie berg nie...hulle se die hek van die hel is daar...die dat die gedoente daar wegraak..hy vat daar koers onderwereld toe. Jy is die eerste een wat ek van weet wat as lewende die ding van so naby gesien het! Niemand was al te naby die affere nie - net die wat bestem is om te gaan...die ding loop nou al vir jare....wonder net - as jy hom nou vanaand gesien het......wie se beurt was dit gewees om vanaand op te klim....wie is nie meer met ons more oggend nie...wonner net?" -en hiermee het ou oom Wessels sy hartseer storie morbied afgesluit.

Ek het nog lank daar gesit - die oom het na sy verhaal stil-stil opgestaan en die donkerte ingeloop. Ek het hom maar gelos - ek wou nie rou wonde verder oopkrap nie. Die naweek het gelukkig gou verbygegaan en ek het maar besluit om die tema nie verder aan te roer nie. Die mense daar rond was om die minste te sê maar baie omgekrap as 'n buitestaander ou wonde onnodig kom ooptorring. Sekeres van hulle het opsluit ook 'n geliefdetjie in daardie verskriklike gebeurtenis verloor. Die Sondagmiddag het ek, na 'n heerlike bord egte boerekos, my ry gekry- die Jakarandastad was nog ver. Nodeloos om u te laat verder gis, toe ek bo-op die kim by die plek kom van my ontmoeting met die trein van die dood, soos ek hom geleer ken het, het ek gestop en baie benoud uitgeklim. Ja wat, die nuuskierigheid darem né? Voetjie vir voetjie het ekke toe my gaan staanmaak op die plek, en eers baie versigtig rond geloer of die helwagen nie dalk weer uit die bosse gaan bars nie! Ek wou nie baie graag sitplek op daardie gedoente hê nie - en jy weet nooit of hy so in die verbygaan dalkies 'n stukkie vars vleis gaat gryp nie.." Hoe dan nou anders.."- het ek sag geprewel na my noukeurige betragting van die onheilsplek - ek moes dit verwag het- geen hek nie, net twee erg geroeste yster stutpale weerskante van die pad en 'n ou ongebruikte en geroeste treinspoor wat al hoeka toegegroei was met die polgrasse, Oliebome en kakiebosse! Ek wou maar nie te lank staan en vertoef nie- my nekhare het alklaar weer regop begin te staan. Ek het maar besluit om die dode en onbekende met die nodige respek te behandel en het my voertuig bestyg en skoongemaak Jakarandastad toe. Ek was tot hede toe nog nie weer op die plaas nie en wonder soms - mense wat in hul geheue die tragiese voorval nog kan herroep (dis nou ons ouer garde) - of hulle ooit weet van ou Roets en sy doodstrein....en of die ding vandag, na al die jare - ooit nog loop? Ewigheid het mos geen einde nie? Ou oom Wessels...ja- hy is ook lankal se tyd nie meer hier met ons nie. Vraag is - het hy ook dalk 'n kaartjie vir daardie trein gehad....het ou Roets dalk vir hom ook kom haal.....wonner net?
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000002
Admin


Aantal posstukke : 1253
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: ONS EIE SPOOKSTORIES   Wed Jun 02, 2010 10:10 pm

Hier is verhaal nommer 3:

OOM NIEK SE KRAAI



Vanmelewe se dae-toe ek nog so ‘n jong tjokkertjie was, het ek ‘n paar jaar by my oom-hulle op die plaas moes bly- tipe van aanneem kind. My eie moeder was nou nie ‘n hen wat haar kuikens onder haar vlerk wou he nie- en my oom-hulle het my maar geherberg. Lieflike mense gewees- Oom Dewald en tante Bessie. Hul plasie was daar in Petrus Steyn se wereld- Vrystaat sal dit wees. Gepas in die omgewing waar hy gele het, was die naam ook dan Fonteinriet gewees- naby ‘n spruit wat sy ontstaan gehad het uit ‘n fontein begroei met riete. Ek kan die plaas nog in my geestesoog sien- die afdraai by die motorhek, die windpomp, skuur- en die ou dubbelverdieping opstal uit ruwe klip soos meeste ou huise in daardie dae was. Agter was die hoenderhokke- bult af die varkhokke- met die beeskrale neffens regs van die plaashuis.

Oom Dewald en tant Bes het al hul lewe daar gewoon na hul getroud was. Drie kinders gehad- Christa die oudste, Hennie en Hannie die jongste. Oom Dewald het met koring en mielies geboer, en was maar ‘n stillerige man, groot van postuur. Met stille fermheid het hy die plaas bestuur- en het nie nonsense gevat nie. As hy gepraat het, het jy geluister- of jy kind, arbeider, hond of wat ookal was. Rebelsheid of ongehoorsaamheid het vir almal dieselfde straf op die hals gehaal- ‘n goeie loesing met die voorslag.

Die verhaal wat ek nou hier gaan vertel, het die oubaas my as kind vertel- en ek vra om verskoning as ek iets sou uitlaat- deur die jare het party feite my ontgaan- agt en dertig jaar is ook maar lank. Nou ja- hier volg die verhaal soos oom Dewald my vertel het op sy kort manier van praat:

“ Anneries( Sy manier van Andries se)- ja jong- jy vra my nou uit oor ‘n moeilike ding- die storie van Ou Niek van Rensburg en sy kraai. Jong- dit was ‘n lelike affere- ek dink nie eindelik ek moet jou vertel nie…net-nou maak jy bednat,-maar as jy nou moet hoor sal ek maar seker.( Hier het die oubaas sy geliefte “ Rizza” sigaret begin rol uit sy twaksak) Ou Niek het daar agter gebly…as jy so met die groot grondpad na die ou swart kerkie by daardie groot kruising toe toe ry..sien jy daardie bome doerrr teen die kam van daardie heuwel? Daar gaan so grondpad agter hulle af na die regterkant toe…jy kan hom nou nie van hier af sien nie…ou Niek se huis was so myl verder af met die pad op die regterkant. Ou Sakkie van Rensburg (nie familie nie) bly nou daar langsaan om ‘n ogie oor die plaas te hou- die is nou heeltemal verlate en in die mark. Niek was nie aldag by sy sinne nie…so bietjie kokaai in die kop gewees. Jong…ou Niek het van dat ons hom ken, so ‘n hans kraai gehad…’n regte verpesting. Hy’t altyd op jou kom sit en jou pen, brille en allerhande goed kom steel…kon nie ‘n verdekselse blink ding uitlos nie! Ek wou die ding al half dood slaat met my kierie. Kon die ding raas…en kuiken steel..magtig...nee..ek het niks van die ding gehou nie.

Man..wat ek kan onthou…was die ding se naam Oubaas…so swart affere met ‘n spierwit bors. Hy het altyd vir ou Niek “Gogga” geroep…ek weet nie waar hy dit geleer het nie. Ou Niek en die kraai was altyd saam- as ou Niek lande toe gaan, was die ding saam…het bo hom gevlieg, of op sy skouer gesit…eintlik baie mak gewees. Altyd ook bo sy kar gevlieg as hy iewers heen gaan…nes ‘n bleddie waghond! As hy kom kuier- het almal dit geweet- jy sien eerste die kraai..dan die kar. Aan die anderkant het die voel weer niks van sy vrou Dina gehou nie. Nou – ou Dina was maar ook nie juis die skerpste potlood in die pakkie nie…sy en Niek het mooi bymekaar gepas…kon die grootste lot twak verkoop…eintlik was altwee maar bleddie stupid as jy my vra, maar nou-ja…hulle het bymekaar gepas. Ja, die kraai-die ding was mal gewees- nes sy baas en die se vrou . Snaaks hoe sulke tipe karakters altyd saam koek. Nou ja- Wanneer Dina saam met Niek iewers heen geloop het- dan het die affere sommer van nerens gekom en haar toegetakel. Hy’t haar gepik, gekrap, met die vlerke geslaan…die voel het besete geraak as hy ou Dina saam met Niek sien…seker maar baie jaloers op Niek gewees. Ek het Niek gewaarsku om ontslae te raak van die gemors, hy gaan nog moleste maak, maar Niek was hardkoppig…magtig…hoe kan ‘n man so ‘n ding bo sy vrou se veiligheid verkies, maar nee…ou Niek wou g’n niks weet nie. Klein Herman Jones het ook al by die kerk vir hom gese hy moet die affere doodskiet…hy gaan nog probleme met die ding optel. Nee wat…ou Niek het sy dinges aan ons almal afgevee! Nou ja, ons het maar hom gelos om sy eie pot te grawe…dit het buitendien niks met ons uit te waai as hy die ding nou wil aanhou of nie.

VERVOLG-


Laas bewerk deur KVB000000002 op Wed Jun 02, 2010 10:14 pm; altesaam $s keer bewerk.
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000002
Admin


Aantal posstukke : 1253
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: ONS EIE SPOOKSTORIES   Wed Jun 02, 2010 10:12 pm

-VERVOLG:

Jong, eendag toe bel Niek ons hier uit die bloute en vra of ek nie gou Dina kan dokter toe vat nie…die verdekselse gevaarte het haar weer in die hoenderhok toegetakel..en haar in die oog gepik. Ek en Bessie is toe maar soontoe. Daar gekom het Dina op die bed gele…die bloed stroom hier(-en hy beduie met sy hand teen sy gesig af-) so af..haar oog se water was alles uit die dop uit..net so jellierige affere wat hier op haar wang hang- en sy skreeu iets almintigs.. Bes het ‘n gaasdoek iewers gekry en die op die oog gesit. Nou ja…toe is ons daar vort Petrus Steyn toe met haar. Daar gekom, is sy toe reguit teater toe.Ai..die arme skepsel het lelik gelyk. Nou ja…daar was toe niks wat ons meer kon doen nie…en het toe weer teruggegaan na Niek se huis toe. Daar gekom, kry ons die ou swernoot in sy kombuis…bedremmeld soos ‘n mannejieskat wat in die water geval het. Op die tafel voor hom le die kraai toe…morsdood. Nee, se hy toe…hy het maar van die ding ontslae geraak. Hy sit toe ewe morbied daar soos ‘n bekaf lokasiebrak en kerm oor die verdekselse kraai…nie ‘n duiwel eers bekommerd oor Dina nie! Ek was lus en steek hom sommer net daar en dan onder die voorslag-ou man of te not- jou tannie moes net keer of ek het hom wragtag op die plek gefoeter! Ek het hom sommer daar vasgetrap en sy leviete goed voorgelees…as die ou blikskottel vroeer na goeie raat geluister het- het die ding nie gebeur nie.

Van die storie af wou niemand in die distrik eers meer by die ou swerkater gaan kuier nie…almal was goed die hel in vir hom….die ou het skoon maar van die kerk af beginne wegbly. Ek het so nou en dan maar gaan inloer…nie vir hom nie…maar om te kyk of Dina nog reg was..jou tannie was baie bekommerd oor haar. Nooit het Niek eers die moeite gedoen om te kom groet nie…was seker maar beneuk omdat ek hom vasgevat het. Ek het maar toe dinge daar laat staan. Anneries jong, dinge het met die tyd maar weer aangegaan soos normaal…niemand het meer hulle aan die ou klomp gesteur nie…ons het beginne van die ding vergeet…so nou en dan maar daarvan gepraat…maar dinge was verby…Dina het haar oog verloor…die gevaarte was dood…en ou Niek het op sy eie aangekarring…nugter weet wat hy alles aangevang het. Ons het maar nie ingemeng nie…elke hoenderhaan het maar op sy mishoop gebly….dit was maar die beste. Ek het hom so nou en dan nog by die Ko-operasie gesien…maar hy was maar stug. Ek het maar gedog te hel met hom!

So met verloop van tyd het al die stof gaan le…geen haan het meer oor die storie gekraai nie….tot eendag toe Dina hiernatoe bel en se ons moet gou kom…daar was ‘n ongeluk! Ek kan nog onthou- dit was ‘n Saterdag middag…ek en Bes het net van Oom Tien afgekom. Ons het inderhaas weer in die Pontiac gespring en is hier weg. Daar gekom, was ou Dina buite haarself histeries. Tussen die gehuilery deur het sy gese ek moet na die koringland toe gaan agter die skuur…Niek le daar…hy het ‘n ongeluk gehad. Ek het toe so gedrafstap…dit was nie te ver nie, tot waar ek hom by die trekker gekry het. Hy het op die grond gele…en die trekker het nog staan en luier. Ek het gaan kyk of hy darem nog kan gehelp word. Ou seun…ek sal daardie gesig nooit vergeet nie! Hy het so op sy sy gele- en toe ek hom omdraai, toe sien ek altwee sy oe is uitgepik. Hy was morsdood…en volgens die merke op die swart turf kon ek sien die trekker het bo-oor hom geloop. Sy ou ryer wat agter op die planter gery het, het doer eenkant gesit en grens. Jong- ek moes die skepsel amper self ook doodmaak om iets uit hom te kry, maar wat hy gese het, laat my hare tot nou toe nog rys. Hy het gese dat hy en Niek was besig om te plant, toe daar skielik ‘n swart kraai uit die lug soos ‘n valk op Niek afduik en hom in die gesig toetakel. Ou Niek het met die deurmekaarspul van die trekker afgeval- en onder die agterwiel beland. Die skepsel het so geskrik, hy het afgespring en laat spaander vir so ent, toe weer omgedraai. Dis toe dat hy sien die kraai sit op Niek se gesig en pik sy oe uit. Wat die ou skepsel laat ingee het, en hy sweer daarby, was toe die onding klaar was met sy gruwelwerk, het hy opgevlieg- en in so sirkel oor hom gevlieg, terwyl hy aanhoudend "Gogga, Gogga, Gogga"- geskreeu het.

VERVOLG-


Laas bewerk deur KVB000000002 op Wed Jun 02, 2010 10:14 pm; altesaam $s keer bewerk.
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000002
Admin


Aantal posstukke : 1253
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: ONS EIE SPOOKSTORIES   Wed Jun 02, 2010 10:13 pm

-VERVOLG:

Ek het die ou nie geglo nie…dit was mos bleddie bog…maar liewer stilgebly. Nou ja…ek het hom toe maar huistoe gevat en jou tannie het hom swart tee ingejaag vir die skok. So drie dae later het ons ou Niek gaan begrawe daar by die kerkhof bo by die populierbos. Na die begrafnis het ‘n paar maande verbygegaan toe ek eendag daar stop omdat jou tannie wou he die werkers moet die kampie gaan skoonmaak…dit was bietjie toegegroei. Anneries…daar het my nekhare regop gestaan. Kyk, ek glo nie aan spoke nie, maar toe ek so instap by die klein hekkie…dit was al sterk skemer…net so na melktyd, toe sien ek hom! Bo-op Niek se graf het die bleddie verpesting gesit. Ek het eers gedog dit is ‘n ander kraai, maar toe ek na hom aanstap, vlieg die gedoente op, hy draai so oor my- en gaan sit op die grafsteen en daar begin hy skreeu:” Gogga,Gogga,Gogga”. Ou seun, ek is net daar en dan kort-om en het gesorg dat ek by die huis kom!

Jou tannie die glo my nog nie..sy dink ek is besig om seniel te raak, maar my magtig man- ek het die ding dan oop en bloot gesien…tot Miekie..die foksterrier..het dan die ding bestorm en tekere gegaan soos ‘n besetene…raak die hond ook nou seniel? Jong, ou Dina is laas jaar – voor jy hier gekom het- oorlede…en sy het ons ook daar gaan begrawe…maar daar wqs gelukkig geen kraai nie. Dit lyk my die ding het sy mes vir ou Niek ingehad omdat die hom doodgeskiet het! Die plaas staan nou al leeg van dat ou Dina oorlede is…niemand wil hom koop nie. Werkers wil nie daar gaan werk nie…die storie het klaar sy rondte gedoen. Die volkie hier se hulle kan sweer hulle het ou Niek en sy mal kraai party keer gesien rond dwaal op sy plaas…en hulle loop ver ompad as hulle daar moet verbygaan. Ek bly maar liewer ook daar weg…as die ou malle en sy helvogel daar wil rondploeter, dan moet hulle maar so maak jong. Nou weet ek nie…eendag sal iemand seker maar weer daar gaan boer…maar ek…nee dankie…ek het genoeg van mal gedoentes gehad!"

Ja, as ‘n mens oom Dewald se storie kan glo, dan wil dit voorkom of geeste van gestorwe diere, nes die geeste van mense, ook blykbaar kan kom wraak neem vanuit die graf. As dit wel die geval sou wees, sal die skrywer maar flussies sorg dat hierdie brakkie van mevrou maar die allerbeste behandeling kry….voordat die my ook eendag na sy afsterwe miskien aan die hakskeen wil kom byt!
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000002
Admin


Aantal posstukke : 1253
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: ONS EIE SPOOKSTORIES   Thu Jun 17, 2010 10:47 pm

Die week se storie:

LIEFDE VAN ANDERKANT DIE GRAF


Wat my nog altyd interriseer- is dat wanneer ‘n mens met ander mense gesels oor die bonatuurlike…die onverklaarbare – hulle geredelik sal saamstem met gebeure- so asof hulle dan ook iemand ken wat ‘n soortgelyke belewenis ervaar het met ‘n wese uit die ander wereld…soms self een ontmoet het. Snaaks genoeg, wanneer daar oor spoke gepraat word, vind ‘n mens dat die meeste spookstories sy ontstaan het in die vervloee tye…tussen ou kastele, afgelee plase, ruines- enige plek wat lank verlate is-so asof spoke saam met die vorige eeue uitgesterf het- of dat spoke nie toegang tot die twintigste eeu het nie- en dat spoke net op afgelee plekke hul verskynings maak of gemaak het.

Die verhaal wat dan hierop volg, is dan ook ‘n anti-klimaks by die norm- deurdat “n paar spookstories ( behalwe my eie ervaring in Suid Wes Afrika)-deur daardie gaping gesluip het in ons verligte eeu in. Om die juiste rede het ek dit goed gevind om die verhaal met my lesers te deel. Die verhaal is aan my oorvertel deur ‘n lang vergete kennis van my- ene Paul Fensham- ‘n ou maat vanaf skooldae. Ek het Paul nie geken as iemand wat juis kluitjies kon bak nie..en het na sy verhaal met gemengde gevoelens geluister. Paul was in alle opsigte ‘n eerlike kereltjie- maar sy storie was in ander opsigte ‘n bietjie verregaande…nou hoe moes ek die twee helftes bymekaar plaas om ‘n geheel te kry? Om juis die rede heg ek ‘n sekere persentasie ernstigheid aan sy verhaal. Ek probeer ook maar sy eie terminilogie en spreekwyse gebruik soos hy dit gestel het- op sy eie manier. Hier volg dan sy verhaal soos aan my vertel:

“ Spoke? Ou Andries…ek bly in die toekoms weg van daai goed af! Laat ek jou vertel hoekom: Lank gelede het ek het op Krugersdorp by my pa-hulle kom bly na ek matriek geskryf het in 1980. Ek het soos ander jong laaities- ook maar ingesak by my pa se besigheid. Ons het elektroniese alarms ingestalleer by besighede en privaat huise. Omdat ‘n alarm sisteem by ‘n fabriek redelik lank kon vat om in te stalleer, het dit ons partykeer gevat om ‘n dag of wat oor te slaap as die dorp of klient ver was van ons hoof kantoor af.

So was dit dan ook dat ek een Vrydag middag laat ‘n werkskaart by Lindie-ons sekretaresse - ontvang het om ‘n installasie te gaan doen op Sishen…ver in die Noord-Kaap. Dit wqs ‘n baie lang ent vanaf Krugersdorp oor Potchefstroom, Sweitzer-Reinecke, Vryburg, Mafeking en deur die woestyn tot verby Kuruman en dan doodstop by Upington- dan tot by Sishen by die myn. Ek sou ‘n paar dae nodig gehad het om die installasie te doen- aangesien dit by ‘n myn benodig was. Om die rede het ek toe besluit om die Saterdag oggend vroeg..se so drie uur- te vertrek en die meeste van die afstand in die vroee oggend af te le.Ek ken ook darem die son as hy dooierus op jou aanle op die pad…hy brand jou gaar. Mense daar rond se mos die regering en die duiwel het kaart gespeel met die Noord-Kaap as prys- en toe verloor die duiwel met opset. Ek het met ‘n Datsun 1400 bakkie gery- lekker lig op petrol-en het die aand sorgvuldig al die components, drade ensovoorts gepak. My reistas het ek gepak met vyf stelle klere en die benodigde was items- en hom somaar agter by die gereedskap ingeboender.


VERVOLG-
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000002
Admin


Aantal posstukke : 1253
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: ONS EIE SPOOKSTORIES   Thu Jun 17, 2010 10:48 pm

-VERVOLG:

Die volgende oggend vroeg is ek toe vort- en het goed gery- so honderd en dertig kilometer per uur- behalwe daar as jy by Schweizer Reinecke verbygaan. Van daar af is die pad sleg. Die son is hier by elf uur so warm, dit smelt die teer- selfs ‘n paar pofadders sit in die pad vas. Slaggate is orals en jy moet mooi ry. Nou ja- ek wou nie he die bakkie moes iets oorkom nie…veral nie in daardie geweste nie. Teen drie uur se kant het ek by Vryburg gestop vir petrol en koeldrank- ek het sommer by so klein restaurantjie gaan iets eet. Na ek bietjie gerus het, het ek die pad gevat suidwaarts .Man, ek het skaars twee uur of wat gery, amper daar ‘n ent van Kuruman af -toe my bakkie se ”heat guage” begin styg. Ek moes toe maar stop, en na ek die” bonnet “oopgemaak het, sou ek sien die waterpyp het gebars.Nou ja ouboet…daar sit ek…dit was laat, maar in die Kaap sak die son mos eers hier by half nege..so, ek het nog so drie ure oor gehad om hulp te kry. Ek kon nie daar sit nie…Andries…daai wereld is droog..en lelik…dis net sulke wit klippe en sand sover jy sien man…daar’s niks…die niks groei net so hoog-( en hy beduie so meter van die grond af).. Ek dink hulle plant net” macaroni” daar- en al wat opkom…is die bleddie gaatjies! Ek het my bakkie gesluit en begin stap in ‘n suidelke rigting, waarnatoe het ek nie geweet nie. Daar kom ook geen karre verby nie..so bleddie skaars soos ‘n maagd in ‘n kraamsaal.

Ek het vervlaks lank gestap…hel…die son het al gesak- toe ek ‘n wit plaashuis doerrr in die verte op die kaal vlaktes gewaar. Ek was poot-uit, warm en dors- en het toe draad gespring en soontoe gestap. Heelwat later het ek pootseer by die huis aangekom. My moed het in my skoene gesak…die plek was doodstil. Ek’t hier geklop, daar geklop, geskreeu- en van pure moegheid my dinges daar teen ‘n boom gaan plak. Nou -daar sit ek toe en worry ek dat iemand my bakkie- of die goed binne-in gaan steel. Ek wou net weer opstaan om te loop terug kar toe- toe kom daar so ‘n “beaut “ van ‘n girl om die huis se hoek. Ouboet..sy was gebou..my hormone het somaar daar-en-dan op hulle hande beginne rondloop. Sy’t so tipe van ‘n “country” rok aangehad…jy weet..amper soos my ouma gedra het- daai met die borslap en frillietjies affere. Sy groet my en vra wat ek daar doen. Ek verduidelik haar toe van my bakkie- en vra of hulle dalk”masking tape,” of water..of miskien ‘n telefoon het. Nee se sy…maar sy kan my water gee…dan kan ek ten minste die bakkie tot daar bring om dit veilig te stoor…ek kan oorslaap as ek wil en die volgende dag kan ons ‘n plan maak met die pyp.

Wel broer...vir daai girl se ek nie nee nie…en het dadelik ‘n bottel of iets gesoek. Die girl was” gift” man…sy het my gesmaak..en nie te lank nie…of daai”feeling” was daar- jy weet mos as die “chemisrtry” beginne “adapt.” . Saam-saam het ons afgesit na die bakkie toe. Ons het lekker” gechat”-ek en sy. Mens sou se ons ken mekaar al vir jare..jy weet…ons het gou ge-“click”. Daar gekom, het ek nuwe water in die radiator gegooi- en stadig het ons toe teruggery plaas toe. Ek het onder ‘n droe wilgerboom gestop en my klere en wasgoed uitgehaal. Haar naam was Sonja Erlank. Sy en haar broer- Chris-wat op die stadium in Lydenburg was om glo volstruise te koop- bly alleen op die plaas. Sy het gese hy sal eers die volgende Woensdag daar wees- en sy is wragtag stoksiel alleen op die vlaktes wat hulle ‘n plaas noem..verbeel jou! Kyk broer..’n beter kans as die sal jy nie weer kry nie…”opportunity” het daai dag heavy ge-“knock”..en ek sallie die deur toehou nie.


VERVOLG-
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000002
Admin


Aantal posstukke : 1253
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: ONS EIE SPOOKSTORIES   Thu Jun 17, 2010 10:49 pm

-VERVOLG

Die aand het ons so bietjie ge-eet- was nie eintlik honger nie…net dors. Ek het ‘n paar “Castles” uit die bakkie gaan haal- en ek en sy het begin gooi. Ons het op so ou bank gele..sy half bo-op my en boeta…ek het dinge gevoel kom daai aand. Hel maat..hier naby middernag toe is die seun darem mooi gespyker…en witwarm om die lendene. Die girl was ook nie skaam nie..en sy het my witwarm gevry….bro…kon daai girl soen…’n mens sou”sceme” sy’t in jare nie ‘n oordentlike vry gehad nie…sy was honger man…honger se ek jou…seker die lank alleen op die plaas bly..daar’s mos nie ander ouens nie. Ek kon nie die kans laat verbygaan nie…en sommer..nou-nou se tyd toe waai die klere…broer..daai kind het ‘n lyf gehad…sy kon ‘n lat hel gee…jy weet…’n lang nag kort maak..en nou ja…onnodig om te se…dinge het gebeur tot vroeg die volgende oggend. Die son het al laankal opgekom toe slaap ek nog. Sy het my so tien uur kom wakker maak met koffie- so sagte stemmetjie gehad-en na ek aangetrek het- moes ek ry…die pyp wag nog. Ek het orals gesoek- en later ‘n stuk “tjoop” gekry wat ek met binddraad om die bars gedraai het. Met ‘n ekstra kan water het ons totsiens gese…ek’t haar belowe dat met my terugkom slag- ek weer gaan kom inloer. Ek konnie die girl los nie…my hart het “tumbles”gemaak…hel broer daai sagte lyf…daai stem…sulke groot blou oe wat tot in jou siel kyk..sy was troumateriaal…sy kon enige tyd my kinders dra!.

Nou ja- ek moes toer..en na nog ‘n lang” sqeeze” – sy het genuine aan my geklou chom- en ‘n soen of wat is ek daar weg na die naaste petrolpomp of garage om ‘n nuwe pyp te kry. Gelukkig het die bakkie gehou tot by so klein” sparepart” plekkie met een pomp langs die pad. Vandaar is ek toe regdeur Sishen toe. Op Sishen het ek tot die volgende Donderdag gewerk- en kon nie gou genoeg terug kom na die “chick “ toe nie. By so half drie was ek klaar en het” sjarpies” in die pad gespring. Ek is die aand laat nog langs die pad gewees- en het sommer in die bakkie “gesnooze”. Die Vrydag het ek like hel gery om so vroeg moontlik by die girl te wees. Man, dit was so more or less twee uur toe ek voor die plaashuis stop…jy sien net stof waai soos die bakkie briek. Ek het my bene gerek want my bas was seer gesit- toe daar ‘n ou oom uit die huis kom- totally grys se ek jou…hy “shuffle” so. Ek skat die toppie so tagtig.

Baie decent groet ek toe die omie en stel myself voor. Hy was nou nie eintlik praterig nie..en se hy is Christoffel Erlank. Broer..kyk…die ou toppie mag lelik gewees het- maar sy kleindogter was uit hierdie wereld uit. Die oubaas het my nader gewink en vra my of ek koffie soek. In die kombuis vra hy my wat ek daar kom doen…of ek die plaas wil koop of wat. Ek se vir die oubaas dat ek kom vir Sonja kuier…of sy miskien daar is. Broer…het jy al ‘n funny kyk in iemand se oe gesien? Daai oom het my uitgekyk asof ek van ‘n ander “planet” af kom…sy bek hang eintlik so oop soos hy my aangaap-jy kon sien die oubaas het sy nut vir my behoorlik gepluk. Sonja wie wou die oudste weet. Ek se hom toe dat ek Vrydag hier was en Sonja het my slaapplek gegee. Ek vertel hom van my gebarste pyp. Die oubaas kyk my toe sleg uit asof ek mal is. Hoe lyk die Sonja- wou hy weet. Ek verduidelik hom…mooi gebou…lang blonde hare…so agttien…vyf voet sewe maybe…blou oe- sy’t so blouerige rok met ‘n wit borslap aangehad. Nou was dit my turn om die outop weer aan te gaap of hy mal is! Jeez…ken hy dan nie sy eie kleinkinders nie…ek meen..hy was seker nie so lank weg dat hy vergeet het hoe sy lyk nie? Net oor die res van die Vrydag aand se sports shuddup ek toe oor- hy hoef daarvan nie te weet nie. Die oubaas het lank my gesit en uitkyk sonder ‘n woord- en toe vir my gese ek moet regtig ernstig wees…ek joke nie. Ek se hom toe dat ek hulle van geen kant af ken nie…wat sal ek- wat in Krugersdorp bly- nou hier kom soek…en nog sy kleindogter se naam ken ook? Hy’t my weer lank aangekyk…ek was bleddie ongemaklik- en toe het hy stadig opgestaan en in ‘n kamer in geloop. Ek was genuine gerattle! Hier ontmoet ek my trouvrou in wie weet waar se vlaktes…en nou lyk dit my hulle is daai spoeg en plak “tipe” family…almal so mal soos hase!

Na ‘n ruk het hy uitgekom met ‘n wit en swart foto in so ‘n houtraam- jy weet mos daai tipe wat hulle in die ou dae geverf het wat so real lyk. “ Is dit sy die..?”het hy my gevra. Ek het die foto bekyk…en yes man…dis sy..daai oe sal ek nie vergeet nie!! Ja oom…dis sy…is sy hier…ek’t haar gese ek sal weer hier kom draai …mag ek haar sien as oom nie omgee nie- ek sal regtig nie lank bly nie- het ek hom gese. Die oubaas het my weer lank funny uitgekyk…toe gaan staan hy by die venster en staar oor die vlaktes vir about tien minute. Suddenly toe draai die ouman om en vra my om saam met hom te loop. Ons is toe by die agterdeur uit, verby volstruiskampe- hey…doer agter deur ‘n bleddie truksvyboord tussen die klippe deur tot aaagter in die hoek van die plaas. Hoekom ons nie kon ry nie- weet ek nie. Heel agter, tussen sulke lang gras- stop ons toe by ‘n ouerige kerkhof in met drie grafte…sulke klippe opmekaar gestapel. Ek smaak mos nie sulke plekke nie- my hare staan ook toe sommer net daar so regop hier in my nek. Die oubaas praat niks…hy wys my na die graf heel regs en se ek moet loop kyk. Ouboet…ek het die chills langs my rug afgevoel…ek laaik mos nie sulke plekke nie.

Toe ek by die ou grafsteen staan, moes ek eers die gras voor die naam wegvat voor ek kon check wie daar le, maar ouboet, wat ek daar gesien het, het my my broek net daar laat nat dinges..ek sweer..my blaas het net laat waai! Weet jy wat was daar geskrywe? Jy sal my nie glo nie! In groot wit gebleikte letters geverf staan daar: “SONJA MAGDALENA ERLANK. GELIEFDE DOGTER EN SUSTER. GEBORE 14 DESEMBER 1937. OORLEDE 11 MAART 1954. RUS IN VREDE TOT ONS WEER ONTMOET.”

Ek sal dit nooit vergeet nie pel…ek dog eers die outop vang my vir ‘n siek joke…maar hy was ernstig..daai fright sal ek onthou..tot die dag dat ek doodgaan.Ek het net daar op my jack gaan sit van skok- hey …dit was weird. Terwyl ek daar sit, het die toppie langs my kom staan…hy het gehuil- die oubaas..ek het nog nooit ‘n ouman so heavy sien crack nie man..spooky se ek jou. Hy vertel my toe hy is Chris Erlank…en Sonja was sy suster. Hulle het hier lankal se tyd gebly alleen na sy ma en pa dood is in ‘n skietery in Johannesburg toe iemand ‘n bank beroof het of iets. Hy het die plaas aan die gang gehou en vir haar gesorg…skool betaal en daai dinge. Sy was in standerd nege…en hy was baie lief vir haar. Sy sussie het met ‘n laaitie uitgegaan wat blykbaar nes ek gelyk het- to a T- en hulle sou getrou het sodra sy klaar was met skool.



Eendag het sy net begin heavy koors optel nadat ‘n spinnekop haar gebyt het oppad van die skool af…en daar was nie ‘n dokter naby nie. Na ‘n week se siekte het sy skielik een aand uitge- “clutch”…niere het blykbaar ge-“collapse”. Die oubaas kon dit nie handle nie en hy het haar daar langs sy ma en pa begrawe .Hy bly al vir 31 jaar alleen op die plaas. Hy hou haar foto by sy ouers s’n in sy kamer…se dat hy verlang genuine baie na sy sussie. Ek vra hom toe waar hy die Vrydag was- toe vertel hy my hy was Lichtenburg toe om volstruise te gaan koop- het eers die Woensdag teruggekom. Ek se hom toe ek weet…sy het my gese. Die outop het weer gecrack. Sy’t seker gedink jy is Carel..haar vorige boyfriend…dit is as jy nie probeer om my vir die gek te hou nie- mense in die omtrek het al gese hulle kon sweer hulle het haar al gesien rond dwaal by die grafte- somtyds tussen die volstruis kampe…maar hyself het haar nog nie gesien nie- het die oubaas my vertel. Ek vra hom toe hoe ek geweet het hoe sy lyk…en daai rok…hoe weet ek hoe lyk die ding? Hy gee my toe nog ‘n shocker- en se dit was presies die rok wat hy special vir haar gaan koop het om haar in te begrawe…sy’t dit nou nog aan in die graf! Ek was chilled man…iced se ek jou! Chom…ek het maar besluit om die res wat gebeur het nie vir hom te vertel nie…die outoppie sal of my gewetter het…of rerig gedink het ek was mal. Hy wou weet hoe ek geweet het hoe sy suster gelyk het.en of sy iets gese het..chom…hoe vertel ek hom wat regtig gebeur het…dat ek sy spooksussie witwarm gevry en jy weet gewat het..hy sou my ge-@#$%&.het!. Dit was ‘n nightmare man! Ek het hom net daar sonder ‘n antwoord gelos by die graveyard en getoer bakkie toe.Van daar af…ek het nooit weer vir cherries op plase gaan kuier nie…dit is hoekom ek nooit sal trou nie…ek is te bang ek vry weer ‘n spook..en aan die anderkant van die coin…ek dink ek verlang genuine te veel na die spookgirl…sallie weer so een ontmoet nie!”

Hiermee het Paul sy verhaal met rooierige oe afgesluit- en my gelaat om die gebeurtenis te oordink. Nou vra ek- is dit moontlik dat iemand wat gesterf het- fisies met iemand in die lewende wereld kan kontak maak, fisies aanraak en so aan? Het Sonja Paul verwar met haar eerstydse liefde? Weereens…is dit fabel- of fiksie? Paul en Sonja alleen sal dit weet- en nie een van die twee sal kan antwoord nie..want soos ek verneem het- is Paul in ‘n motor ongeluk oorlede in 1989 tussen Krugesdorp en Westonaria op die snelweg..blykbaar laatnag ‘n dronk voetganger getref. ‘n Mens sou wonder…sien hy en Sonja mekaar nou aan die anderkant…en wat van die vroeere seun wat sy mee sou trou? Wie weet...miskien het die ander kant ook sy liefdes driehoeke
!
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
Sponsored content




PosOnderwerp: Re: ONS EIE SPOOKSTORIES   Today at 2:29 pm

Terug na bo Go down
 
ONS EIE SPOOKSTORIES
Besigtig vorige onderwerp Besigtig volgende onderwerp Terug na bo 
Bladsy 1 van 1

Permissions in this forum:Jy mag nie onderwerpe in hierdie forum beantwoord nie.
 :: Kuns en Kultuur-
Spring na: