IndexCalendarMAN/FAQSoekLedelysGebruikersgroepeRegistreerTeken in
Neem asb kennis dat hiermee dit amptelik aangekondig word dat die KVB Forum sal skuif, gaan na die kaapsevryheidsburgers.org blad en volg die Forum skakel
Latest topics
» BYMEKAARKOM DAG
Sat Sep 25, 2010 4:28 pm by findmy012

» WAARSKUWINGS VLAKKE TOV SEKURITEITS STATUS
Sat Sep 25, 2010 4:27 pm by findmy012

» VROU IN HUIS VERWURG DEUR SWART ROWERS
Sat Sep 25, 2010 4:27 pm by findmy012

» FORUM WILL BE CLOSING!!!!!!
Sun Sep 05, 2010 9:38 pm by KVB000000002

» ANC GEORGANISEERDE MISDAAD SINDIKAAT IN BLOU TERREUR UNIFORMS
Tue Aug 24, 2010 9:02 pm by KVB000000002

» AND RATCONTROL
Tue Aug 24, 2010 8:58 pm by KVB000000002

» N DAG IN DIE LEWE VAN N BLANKE INWONER IN N WIT PLAKKERSKAMP
Thu Aug 19, 2010 10:38 pm by KVB000021133

» STAKENDE BOBBEJAANTROP OPPAD OM LAND SE EKONOMIE TE KELDER
Tue Aug 17, 2010 11:12 pm by KVB000000002

» WAAR IS DIE POSTE?
Tue Aug 17, 2010 10:50 pm by KVB000000002

Top posters
KVB000000002
 
KVB000000001
 
KVB000000005
 
KVB000021142
 
KVB000021126
 
KVB000021133
 
Arend
 
Admin
 
Ridder Van Die Langpad
 
KVB000021107
 
Wie is Aanlyn
Daar is slegs 1 gebruiker aanlyn :: 0 Geregistreerd, 0 Versteek en 1 Gas

Geen

Meeste gebruikers ooit aanlyn was 48 op Sat Apr 23, 2011 6:16 am
Statistics
Ons het 175 geregistreerde gebruikers
Die nuutste geregistreerde gebruiker is GK63

Ons gebruikers het altesaam 3166 artikels geplaas in 1809 subjects
SA Topsites
SA Topsites
::

Share | 
 

 Suidlander media berigte

Besigtig vorige onderwerp Besigtig volgende onderwerp Go down 
SkrywerBoodskap
KVB000000001
Admin


Aantal posstukke : 1130
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Suidlander media berigte   Sat Jul 17, 2010 9:50 am

Suidlanders gereed om pad te vat
2010-07-16 01:19
Artikelopsies
Druk artikel e-pos artikel Deel
Yahoo Google Digg del.icio.us Facebook Twitter Kry Volksblad op
Jou selfoon Jou Facebook-profiel Charles Smith en Willem van der Berg



Die Suidlanders is besig om kos, brandstof en gas in groot hoeveelhede op plase te berg vir die groot trek na geheime kampe.

Dié regse sambreelorganisasie wil die Boerevolk vinnig verskuif na die platteland sou die profetiese aanslag op blankes begin wat hulle vrees.

Terwyl eie lede teen dié “waansin” waarsku omdat hongersnood en siektes dié avontuur in ’n nagmerrie kan verander, beplan hulle egter met militêre presisie aan die uittog.

Daar word in elke distrik georganiseer, dorpshoofde word aangewys en vergaderings deur die land gehou. Oefenkampe word ook gereeld gehou en hul planne ingeoefen.

Woonwaens en sleepwaentjies vol kos en noodtoerusting staan gereed vir die uittog na die geheime skuilplekke in landelike gebiede.

Bakkies met woonwaens vol noodvoorraad word reeds op Karooplase geberg.

’n Ondersoek deur Volksblad vandeesweek het gewys dat daar ’n diep religieuse rede vir hierdie doelgerigte projek bestaan.

Die trek stem duidelik ooreen met Moses wat die uitverkore volk Israel deur die woestyn na die beloofde land lei.

Baie lede sien dan ook die Boerevolk as afstammelinge van die verbonds- of Bybelvolk, Israel.

Die “woestyn” speel vir die Suidlanders ’n groot rol. Nie net verwys hulle na die Bybelse, geestelike woestyn nie, maar mik hulle duidelik na kampe in afgeleë streke soos die Karoo.

Die profesieë van onder meer die Boereprofeet Siener van Rensburg, soos sy profesie van die nag van die lang messe, skep ook die dryfkrag vir die voorbereidings.

Mnr. Ian Harding, leier van die Suidlanders in die Noord-Kaap, het aan Volksblad sy eie woonwa en sleepwaentjie vol voorraad gewys.

Hy is gereed om tot ses maande te kamp of “vinnig” met die sleepwaentjie te vertrek. Hy het self kratte vol uie, tamaties en boontjies wat spesiaal gedroog en lugdig verpak is, aan joernaliste gewys.

Harding het gesê vir hom is dit ’n geloofsdaad en nie politiek nie.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder en politieke wetenskaplike aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom, sê dié soort denke van verregse groeperings soos die Suidlanders is ’n produk van politieke persepsies ten opsigte van die politieke omstandighede en onsekerheid waarin Suid-Afrika hom tans bevind.

’n Lid van die Suidlanders in die Vrystaat wat anoniem wil bly, het gesê ’n paar lede met ’n militêre agtergrond het hulle aan die voorbereidings onttrek. Hy het gewaarsku dat dié ouens nie weet wat hulle doen nie en die kampe in ’n ramp kan verander as kos min raak en die water besoedel raak.


- Volksblad
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000001
Admin


Aantal posstukke : 1130
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: Suidlander media berigte   Sat Jul 17, 2010 9:51 am

Suidlanders op soek na ’n nuwe beloofde land
2010-07-16 12:14
Artikelopsies
Druk artikel e-pos artikel Deel
Yahoo Google Digg del.icio.us Facebook Twitter Kry Volksblad op
Jou selfoon Jou Facebook-profiel
Verwante skakels
Leier van Suidlanders in NK ‘gereed vir trek’
Suidlanders gereed om pad te vat
Ds. Willie van der Berg dink só oor die trek
Charles Smith en Willem van der Berg
DIE tipe denke van verregse groeperings soos die Suidlanders is ’n produk van politieke persepsies ten opsigte van die politieke omstandighede en onsekerheid waarin Suid-Afrika hom tans bevind.

Die uiters dinamiese politieke omgewing van die post-Polokwane-tydperk impliseer groot politieke onsekerheid en uitsigloosheid. Dit is in dié omstandighede dat daar op profesieë en toekomsvisies soos dié van die Boereprofeet Siener van Rensburg teruggeval word.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder en politieke wetenskaplike aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom, sê die verregses het ’n redelik fundamentele ideologiese denkstelsel waarvolgens die politiek van die dag beoordeel word.

As hy ’n perspektief gee op hoe hy dink hul koppe werk, is hy ’n ontleder en identifiseer hy nie met hierdie sienings nie.
“Ons moet besef dat Afrikaner-nasionalisme binne ’n eie staatkundige raamwerk net nie meer haalbaar is nie. Die post-Polokwane-epog laat tans ook ’n groot onsekerheid by mense – in besonder by Afrikaners,” sê hy.

“Die politieke onsekerheid definieer bedreigings en persepsies van bedreigings – en dié persepsies word naderhand verhef tot die werklikheid.

“Dit word ook in stand gehou deur dinge soos die uitsprake van Julius Malema en uitsprake oor grondhervorming en die nasionalisering van myne.”

Duvenhage sê dit is dan wat in hul oë ’n Kairos-moment plaasvind, wat ’n tyd bepaal vir daadwerklike en daadkragtige optrede. Soos om te trek na ’n beloofde land – ’n denklyn wat baie sterk histories ingebed is in die geskiedenis van die Afrikaner.

Duvenhage sê die verklaring vir die verskynsel lê dikwels op ’n religieuse vlak, wat die grondslag verskaf vir fundamentalistiese en ideologiese denke. Eerstens is daar die bedreiging wat hulle aanvoel en tweedens die beskouing van sommige Afrikaners van hulself as ’n verbondsvolk à la Israel.

As die verbondsvolk oortree, word hy gestraf – ooreenkomstig die denke – maar uiteindelik oorwin God se genade.
“Israel moes 40 jaar in die woestyn bly omdat hy nie gehandel het volgens God se wil nie en nie geluister het na die boodskap van God nie; toe het Hy hulle verlaat,” verduidelik hy.

“Dit is baie interessant om op die analogie van Siener van Rensburg met die Bybelse profete te let. Hy het sy mense gewaarsku en ook ’n bepaalde toekoms uitgespel. Nou word daar teruggeval op hierdie profesieë van ’n man wat reeds in 1926 oorlede is.”

Siener van Rensburg het baie geloofwaardigheid as profeet by veral regse Christene. As ’n soort Nostradamus het hy (volgens hulle) sekere dinge reg voorspel, soos genl. Koos de la Rey se dood, die Eerste en Tweede Wêreldoorlog, Verwoerd se dood en ook die opkoms van die Mandela-ikon.

“Verregses neem Van Rensburg geweldig ernstig op. In die tyd van uitsigloosheid word die profesieë die toekomsvisie, al definieer dit ook ’n lydingsweg, ’n Golgota-weg, maar eventueel redding en uitkoms.

“Dis daarom so belangrik om te weet wat hierdie toekomsvisie is. In die onsekerheid word toekomsvisie en persepsie dan die werklikheid waarvolgens gehandel moet word.”

Onder die toekomsvoorspellings van Siener van Rensburg is:

Dat Suid-Afrika vier swart presidente sal hê “voordat die moeilikheid kom” (pres. Jacob Zuma is die vierde swart president);

Dat daar ’n kommunistiese aanslag op die regering sal wees;

Die moorde op die blankes;

Die onteiening van blankes se grond;

Die dood van ’n swart ikon, wat dalk oudpresident Nelson Mandela kan wees;

Die Nag van die Lang Messe. Siener van Rensburg het gepraat van die “gordyne wat deur die oop venster wapper” soos wat mense vlug;

Die swart regering wat in duie stort;

Groot stakings;

Die bankrotskap van Amerika en Engeland;

Die groei van Moslem-bevolkings in Europa; en

Duitsland wat weer deur God begenadig word en weer ’n sterk volk word en die Afrikaner sal ondersteun.

Duvenhage sê Siener van Rensburg het skynbaar ook voorspel dat ná al hierdie krisisse Suid-Afrika weer ’n Christelike regering gaan kry en die Afrikaner sal oorneem en die Christelike bewind hier behou. Al die Afrikaners sal in een kerk verenig word en daar sal Afrikaner-eenheid wees.

“ ’n Mens word baie maklik ’n slagoffer van hierdie denke,” sê Duvenhage.

“Talle Afrikaners voel tans gemarginaliseer, onseker en in ’n sekere mate nutteloos. Sommige Afrikaners voel onwelkom en tweedeklas-burgers in hul eie land. Hulle voel geïsoleer en verstoot. Maar hulle sien in die geloof ook ’n louterproses, ’n lydensweg, en ’n grondslag vir politieke handeling.”

Duvenhage sê die hoofrolspeler in hierdie verskynsel, is die fundamentele ideologiese oortuigings soos onder meer uitgespel deur Siener van Rensburg, waarvolgens die verbondsvolk uitgelei sal word uit die krisisse na die “beloofde land”.

In sy eie politieke scenario-ontleding is daar die model dat as sake sleg gaan, dit bepaalde negatiewe reaksies tot gevolg het. Duvenhage oordeel die denke werk met die veronderstelling dat die slegste van die scenario’s op hande is, waarmee hyself nie saamstem nie.

In ’n Kairos-moment is daar ’n vensterperiode waarin die regte besluite geneem moet word. As dié besluite verkeerd loop, kan dit kragte ontketen wat omstandighede bevorder en ’n slegte-saak-scenario in die hand kan werk.

Dit, ooreenkomstig die denkpatroon, sluit in grondonteiening, die ANC se meer radikale beleid van swart nasionalisering en die dreigement van die onteiening van myne en die radikale toepassing van die Nasionaal Demokratiese Revolusie-idee van die regering.

Duvenhage sê die groep wat binne hierdie denkpatroon optree, is nie baie groot nie. Regses bou momentum op, maar hy is baie meer bekommerd oor die radikale opstande aan die linkerkant van die politieke spektrum, asook die terugspeel daarvan op ’n onstabiele ANC-familie.

“As ons kyk na die dryfkragte vir onstabiliteit in Suid-Afrika, is ’n regse opstand maar ’n druppel aan die emmer. Belangrike faktore is die onstabiliteit in die ANC en die dienslewering- en armoedekrisis. In dorpe in die Vrystaat is die werkloosheid in gebiede tot so hoog as 80%.”

Oor die regse gevaar en die infiltrasie deur die polisie van groepe soos die Suidlanders, sê Duvenhage die ANC voel ongelooflik maklik en vinnig bedreig en oorreageer soms op kleiner bedreigings.

“Dit is die ding wat ek van die ANC optel: Hy regeer die land, maar voel nie in beheer van die land nie. Dis ook ’n persepsie: Hoeveel moet jy in beheer wees om in beheer van die land te wees?”

Sal totalitêre beheer voldoende wees? Antwoorde moet gesoek word binne die raamwerk van die Suid-Afrikaanse Grondwet en ons nuwe demokrasie, aldus Duvenhage.
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000001
Admin


Aantal posstukke : 1130
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: Suidlander media berigte   Sat Jul 17, 2010 9:52 am

Leier van Suidlanders in NK ‘gereed vir trek’
2010-07-16 12:14
Artikelopsies
Druk artikel e-pos artikel Deel
Yahoo Google Digg del.icio.us Facebook Twitter Kry Volksblad op
Jou selfoon Jou Facebook-profiel Charles Smith en Willem van der Berg
KIMBERLEY. – Die Suidlanders in die Noord-Kaap het reeds groot hoeveelhede kos en brandstof op veilige plase versteek.
Mnr. Ian Harding (38), streekleier van die Suidlanders in die Noord-Kaap, beplan hul uittog met militêre presisie in ’n noodtoestand.

Hy is meer as gereed om te trek as die SMS vir die groot oomblik deurkom. Hy het twee viertrek-bakkies wat gereed is. Sy luukse woonwa is tot teen die dak gepak met kos, asook nood- en kamptoerusting.

Hiermee kan hy drie tot ses maande oorleef. Sy sleepwaentjie langsaan is ook netjies gepak en gereed as hulle “vinniger” moet vertrek en daar nie tyd is vir die woonwa nie.

Met die kos in die waentjie kan hy ’n maand oorleef.

Hy sê hy het ook al R400 000 bestee om kos te koop vir mense wat dit nie kan bekostig nie, of wat sonder kos by die kampe van veiligheid gaan aankom.

Op ’n vraag of dit ’n werklike vrees is waarvoor hulle hulle voorberei, sê hy: “Dit gaan nie soveel oor ’n vrees nie as oor die voorbereiding vir sou iets werklik verkeerd gaan in die land.

“Niemand kan met sekerheid sê dat iets verkeerd sal gaan nie. Maar as jy kyk na die tendens in die land, dink ek jy hoef nie ’n dokter te wees nie om uit te werk daar is ’n moontlikheid dat iets verkeerd kan gaan.

“Al wat ons doen, is om ’n Plan B gereed te kry – om iewers heen te gaan waar ons ons mense veilig kan hou.”

Harding, ’n eienaar van ’n konstruksiemaatskappy, sê hy stem nie saam met die mense wat politiek gemotiveer is vir die uittog nie.

“Dit gaan oor die behoud van ons eie mense. Daar is by my geen vrees nie. By my is dit nog meer van ’n geloofsaak. Vir die feit as jy Godvrugtig wil lewe, sal jy vervolg word. Dit is net so.”

Hy dink die polisie sal in ’n stadium nie die gevaar in die land kan hanteer nie. Die polisie het gesê die xenofobiese aanvalle sal nie plaasvind nie, maar hier gebeur dit.

“Maar nee, ons lewe nie in vrees nie. Die lewe gaan aan. Tot nou toe maak ons seker ons waentjies is gepak. Ons verloor niks daardeur nie.”

Sy “ons” sluit in alle mense wat “saamstem met die saak”, wat aansluit deur in te bel om hul naam op die Suidlanders se SMS-lys te kry. Elke week word ’n SMS na hulle uitgestuur. Só word die SMS-stelsel getoets om seker te maak die boodskap van mnr. Gustav Muller, die Suidlanders se leier, bereik almal.

Harding sê hulle het al getalle gekry van 600 000 tot 800 000 SMS’e wat deur die Suidlanders uitgestuur word.

“Sou daar ’n noodtoestand ontwikkel dat mense op groot skaal uitgemoor word – ons praat spesifiek van ons eie mense, die Boervolk – as ons dit sien, dan wil ons ’n stelsel hê wat ons beskerm,” sê Harding.

Oor wie die finale noodsein gaan uitstuur, die SMS waarvoor almal wag, sê hy: “Dit sal van Gustav kom. Hy het natuurlik ’n adviesraad. Dit is nie een persoon (wat die besluit sal neem) nie. Gustav is selfs nie eens bereid om die volle verantwoordelikheid daarvoor te dra nie. Ek dink geen mens is bereid nie.”

Harding sê hulle het in swart woonbuurte informante van mense wat vir hulle kom vertel wat gesê word. “As jy die inligting van hulself hoor, dan besef jy dit gebeur. Dit kom nader.”

Die Suidlanders het egter nie ’n tyd of datum oor wanneer die trek gaan geskied nie.

Niemand weet ook waarheen hulle gaan nie.

“Nie eens Gustav weet waarheen die Noord-Kapenaars trek nie. Ek het eendag vir Gustav gesê: Een ding wat ek jou kan sê (oor waar ons is), is: ‘Ek kan jou koördinate gee, maar jy gaan jouself in die Indiese Oseaan kry.’

“Toe lag hy en sê dis presies hoe ons moet werk. Dis die enigste manier hoe die Iere oorleef het – in selle wat nie van mekaar weet nie.”

Een persoon sal weet van een van die aanmeldpunte. As hy dit verklap, is daar ’n tweede aanmeldpunt. Van daar trek hulle verder in die rigting wat vooraf bepaal is.

Oor die feit dat dit vir hom ’n geloofsdaad is, sê Harding: “Kyk, een ding weet ek: Ons volk het weggedwaal van ons God. Die enigste manier wat die Vader weer met ons werk, is dat Hy ons losskeur van ons besittings. Die enigste plek waar Hy met ons kan werk – en dit kan julle gaan bestudeer in die Skrif – is in die woestyn. En as ek sê woestyn, praat ek meer geestelik.

“Maar ons gemaksone – ons huise, besighede, mediese skemas, pensioene – het ons ondersteuning geraak. Ons vertrou daarop eerder as op God. Vader gebruik hierdie situasie om ons tot besinning te kry,” sê Harding.
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000001
Admin


Aantal posstukke : 1130
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: Suidlander media berigte   Sat Jul 17, 2010 9:53 am

Suidlanders in VS berg kos, brandstof
2010-07-17 01:20
Artikelopsies
Druk artikel e-pos artikel Deel
Yahoo Google Digg del.icio.us Facebook Twitter Kry Volksblad op
Jou selfoon Jou Facebook-profiel



Lede van die Suidlanders in die Vrystaat het reeds “ongelooflike hoeveelhede” kos en brandstof op veilige plekke geberg in geval van ’n noodtoestand, sê mnr. Doep du Plessis, streekleier. Hy sê daar is verskeie bekende dokters in Bloemfontein wat die Suidlanders steun en hul dienste aanbied in die geheime kampe.

’n “Bekende professor in wetenskappe” aan die Universiteit van die Vrystaat dien ook in sy adviesraad wat sal besluit wanneer die nood-SMS uitgestuur word. “Ons het ’n ongelooflike span top-manne. Dit is bekende name. Dit is nie paloekas nie. Ons kan nie net halsoorkop besluit om te trek nie. Ons kan nie ’n vals alarm uitstuur en as die mense terugkeer na hul huise, is daar niks oor nie. Ons moet 100% seker wees,” het Du Plessis gister gesê.

Net soos mnr. Ian Harding, die Noord-Kaapse streekleier, is sy woonwa en sleepwaentjie gepak en gereed om binne minute te trek na die veilige kampe wat reeds geïdentifiseer is.

“Ekstra kos en brandstof is geberg. Hier is mense wat ongelooflike hoeveelhede voorrade gereed het. Die kos is gedroog, verpak en gestoor,” het Du Plessis gesê.

Volgens hom is hulle gereed vir enige noodtoestand wat mag geskied, hetsy xenofobie of oorstromings. Hulle het genoeg kos, noodtoerusting en medisyne.

Intussen het die reaksie ingestroom op Volksblad se webtuiste www.volksblad.com nadat gister berig is oor die Suidlanders se planne om te trek sou die SMS kom. Daar is diep godsdienstige redes vir hul voorbereidings vir die trek, wat selfs herinner aan Moses se trek deur die woestyn na die beloofde land.

’n Koos Uys het geskryf: “Kyk, ek het nie ’n probleem daarmee om voorbereid te wees nie, maar Die Suidlanders is effe belaglik. Dink hulle wragtag daar is een enkele plek op aarde wat vandag nie meer maklik bereikbaar is nie? (Google Earth sien mos alles)”

Lucille se reaksie was: “Suidlanders, is julle optrede nie buite God se wil nie, want die Skrif is duidelik: God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie. Dink maar bietjie daaroor. Sluit eerder aan by ’n karavaanklub en gaan meer gereeld weg vir ’n naweek en begin lewe.”

Ene Trotse Suidlander het geskryf ten minste leef die Suidlanders hul Christelike beginsels uit. “Ons braai saam, ons praat in hierdie dae oor een ding en dit is God, ons hou ons nie besig met allerhande daaglikse snert nie, ons hou ons besig met God se dinge.

“As daar dan volgens die media en pers en die verligtes niks gaan gebeur nie, gaan ek ’n heerlike lang kampvakansie hou en ek sal lekker lank kan eet, want al my kos is vakuum verpak – en ja – ek is ook voorbereid. As daar sou moeilikheid uitbreek, is ek verreweg eerder saam met my eie in ’n beskermingsgroep as saam met ander.” Hy sluit so af: “My volk, julle sal wees soos ’n skermpie in die wingerdland in die laaste dae, julle sal verag en bespot word, maar julle sal vasstaan om My ontwil. Dan word ek maar bespot en beledig vir my Verlosser!!”
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000001
Admin


Aantal posstukke : 1130
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: Suidlander media berigte   Sat Jul 17, 2010 9:54 am

Ds. Willie van der Berg dink só oor die trek
2010-07-16 12:14
Artikelopsies
Druk artikel e-pos artikel Deel
Yahoo Google Digg del.icio.us Facebook Twitter Kry Volksblad op
Jou selfoon Jou Facebook-profiel
RITCHIE. – Daar word reeds ’n lae-intensiteitoorlog teen die Boervolk gevoer en alles dui daarop dat dit binne twee jaar kan verskerp, sê ds. Willie van der Berg (62), wat met die Suidlanders se voorbereidings vir die noodtoestand saamstem.

Van der Berg glo die Boervolk is die afstammelinge van die Israelvolk, of die Bybelvolk. Hy glo God gaan Sy volk tugtig omdat hy toelaat dat “heidense volke” oor hom heers en dit sal tot ware bekering lei.

Van der Berg is oorspronklik ’n Gereformeerde predikant en nou betrokke by baie klein en “baie behoudende oud-Gereformeerde gemeentes” by Theunissen en by Carnarvon. Hy beskryf die gemeentes as “baie eng Gereformeerd” of “amper ’n herstigte Gereformeerde kerk”.

Hy sê die motivering by die mense wat gereed maak om te trek, spruit uit die oorspronklike voorspellings en profesieë van Siener van Rensburg, wat glo gepraat het van ’n prominente swart leier wat begrawe sal word en van die Nag van die Lang Messe waar blankes op ’n groot skaal uitgemoor sal word.

“Ekself huldig nie noodwendig daardie standpunt nie. Ekself glo die Boervolk is die afstammelinge van die Israelvolk. Daar is baie Bybelse gronde hoekom ek dit sê en in die volkekunde is daar baie bewyse daarvoor. Dit huldig ek.

“Dit is belangrik, omdat baie mense binne die Suidlanders dieselfde standpunt huldig. Daarom glo hulle die profesieë in die Bybel in profeteboeke in Jesaja en Jeremia en ander: Die volk, hierdie volk, is in ’n verbondsverhouding met God.

“Hulle glo dat God gesê het as Sy volk ongehoorsaam is aan hom, aan Sy wette en instellings, dan gaan Hy die volk straf. En dat Hy sover sal gaan dat vreemde volke, ander volke wat buite Israel staan, oor Sy volk sal heers. Hy sal dit toelaat om op só ’n wyse weer Sy volk na hom toe te dwing, as ’t ware tot bekering te bring.

“Dit is my oortuiging dat dit is wat hier besig is om te gebeur. Dit het reeds plaasgevind, dat hier vandag vreemde, heidense volke oor Sy volk regeer in dié land. Hierdie volke is ook die Israelvolk, die Boervolk, baie vyandig gesind.”

Van der Berg sê baie mense in die Suidlander-beweging huldig hierdie standpunt. Dit is hoekom hulle verwag dat die lae-intensiteitoorlog wat reeds plaasvind, van voor 1994 en ná 1994, verskerp sal word, soos die moorde op boere.

Hy wil dit saamvoeg met iets wat Julius Malema gesê het: Dat hy ’n militante leier soek wat grond op ’n militante wyse sal vat.
“Dis hoekom ek sê waar die emosie reeds besig is om op te bou na die volgende verkiesing, gaan ’n gewone of gematigde swart leier nie meer in aanvraag wees nie.

“Hierdie gevoel word aangeblaas deur mense soos Malema. Maar hy’s net die spreekbuis van ’n klomp mense. Dit is wanneer ek glo hierdie lae-intensiteitoorlog sal oorgaan in... ja, ’n situasie waar blankes veral op ’n groot skaal uitgemoor word. As dit toegelaat word.”

Maak die term Bloedrivier vir die Suidlanders se veilige kampe sin?

“Ja, ek dink dit maak sin. Kyk, as gepraat word van Bloedrivier, beteken dit net die Boere het by Bloedrivier bepaalde voorbereidings getref. Hulle het verwag daar kom ’n probleem en hulle het laer getrek om hulself te beveilig. Hulle het die geleentheid gehad.

“Dis wat baie mense nou voel: Ons het nog tyd om ’n bietjie voorbereiding te tref, kos bymekaar te maak. Want nie een weet as so ’n situasie ontstaan, hoe lank dit sal neem en wat gaan voortvloei nie.”

Worstel u met God oor wat die uiteindelike doel is met die Boervolk?

“Ek kan eerlik sê ek kom al soveel jare daarmee dat ek nie meer in my gemoed baie vrae het daaroor nie.

“Ek sien vir myself baie duidelik die pad wat Hy besig is om met hierdie volk te loop. Dit is baie teologies ook. Dit is omdat Hy ’n verbond het met hierdie volk. Ons voel hierdie verbond tussen Hom en Sy volk staan nog, maar ’n volk kan ongehoorsaam wees aan die verbond.

“Dan tree daar straf in werking. Sy straf is nie altyd oor ander mense nie, dis oor Sy volk – net soos ’n vader sy kinders sal straf omdat hy ’n verbintenis met hulle het. So tugtig Hy sy volk, maar altyd om hulle nader aan Hom te bring. Hierdie gevoel leef baie sterk by baie van die mense in die Suidlanders.”

Van der Berg sê God stel dit duidelik dat al gebeur wat ook al, “nogtans sal Ek nie ’n einde aan julle maak nie, daar sal altyd ’n deel van die volk oorbly”. Die dooie takke en lote van die volksboom sal afgesny word. Die proses lei egter tot ware reformasie, tot ware bekering.

Gaan hy verligting voel as die groot dag aanbreek?

“Ek dink so, dat dit ’n verligting sal wees om eindelik te weet waarheen jy gaan. Alhoewel, ek wil dit duidelik stel: Mense dink dit gaan ’n wonderlike, romantiese, idealistiese tyd wees. Daar is ’n ou wat verlede week vir my sê: ‘Dink net, ons gaan in die aande om ’n kampvuur sit en gesels.’ So sal dit mos natuurlik nie wees nie,” sê hy.

Volkblad wys om etiese redes uit dat Willem van der Berg, medewerker aan dié artikels, ’n joernalistiekstudent aan die Universiteit van Stellenbosch is. Hy is ook die seun van ds. Willem van der Berg oor wie hier berig word. Die artikels is onafhanklik en objektief aangepak.

Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000001
Admin


Aantal posstukke : 1130
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: Suidlander media berigte   Fri Jul 23, 2010 8:31 pm

Sê jou sê: Sal jy saamspan met die 'Boere-Viking'?
deur MyVolksblad-redakteur
2010-07-22 08:59

'n Jong Nataller wat homself as ’n Boere-Viking beskou, is deel van ’n groep van drie van die eerste Suidlanders wat getrek het.

Mnr. Gunther Jurgens Kotze (32), wat na homself as “Babilon se vyand nommer een” verwys, het gesê hy en twee vriende het hul werk opgegee, al hul goed verkoop en “wag vir die inevitable k—k wat kom”.

Hy is ook een van die leiersfigure van die Afrikaner-jeugkommando (AJK), ’n tipe paramilitaristiese beweging met die slagspreuk “Vir God. Vir Vaderland. Vir Volk. Soos een man staan ons saam.” Lees die storie hier en kyk na `n video van Kotze.

Wat dink jy van Kotze se uitsprake? Stem jy saam met hom? Of reken jy hy stel blanke, Afrikaanse mense in `n swak lig?
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000001
Admin


Aantal posstukke : 1130
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: Suidlander media berigte   Fri Jul 23, 2010 8:32 pm

‘Boere-Viking’ is een van drie Suidlanders wat groot trek pak
2010-07-21 10:50
Artikelopsies
Druk artikel e-pos artikel Deel
Yahoo Google Digg del.icio.us Facebook Twitter Kry Volksblad op
Jou selfoon Jou Facebook-profiel Charles Smith
’n Jong man wat homself as ’n Boere-Viking beskou, is deel van ’n groep van drie van die eerste Suidlanders wat getrek het.

Die Suidlanders is besig om op groot skaal voor te berei om te trek na geheime kampe vir wanneer die “profetiese aanslag” op wit mense glo gaan plaasvind.

Een groep glo die Boereprofeet Siener van Rensburg se “nag van die lang messe” is op pad en ’n ander glo God roep sy verbondsvolk na die woestyn.

Mnr. Gunther Jurgens Kotze (32), wat na homself as “Babilon se vyand nommer een” verwys, het gesê hy en twee vriende het hul werk opgegee, al hul goed verkoop en “wag vir die inevitable k—k wat kom”.

Kotze het deur Facebook gesê hy en die vriende het in twee bakkies en sleepwaens die pad gevat en kampeer nou. “Ons sien nie meer die punt om by die huis te sit en wag vir die inevitablek—k wat kom, ons swem nie in daai rivier in Egypt nie, jy weet? Denial? En nee, ons trek nie uit nie, ons gaan kamp by mense wat gedreig is.

“So, ons gaan daar by hulle chill, want f—k die gov en babylon and money, ons gaan train en Bybel lees todat dit oorlog is.

“(Die) Suidlanders is reg mah bru, ons is maar net early adopters wat wil en gaan hulp (sic), so ja, kaaaaaaaaamping till uhuru, trainin’, pushups, boogskiet...”

Kotze beskryf homself as ’n persoonlike fiksheid- en selfverdedigingsinstrukteur.

Wat dink jy van Kotze se uitsprake? Stem jy saam met hom? Of reken jy hy stel blanke, Afrikaanse mense in `n swak lig? Vertel ons hier.


Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
KVB000000001
Admin


Aantal posstukke : 1130
Join date : 2010-02-07

PosOnderwerp: Re: Suidlander media berigte   Fri Jul 23, 2010 8:42 pm

http://www.youtube.com/watch?v=_UUFk0LIsSU&feature=player_embedded#!

http://www.youtube.com/watch?v=E5qNNuSka5c&feature=related

http://www.youtube.com/watch?v=UcWsTwvtyOI&feature=related
Terug na bo Go down
Sien gebruiker's profiel
Sponsored content




PosOnderwerp: Re: Suidlander media berigte   Today at 12:13 am

Terug na bo Go down
 
Suidlander media berigte
Besigtig vorige onderwerp Besigtig volgende onderwerp Terug na bo 
Bladsy 1 van 1

Permissions in this forum:Jy mag nie onderwerpe in hierdie forum beantwoord nie.
 :: Kaapse Vryheids Burgers :: Kletshoekie-
Spring na: